Friday 13 March 2009

The Secret Life of Bees

Ek het pas Sue Monk Kidd se boek The Secret Life of Bees gelees en het net soveel saam met Lily gehuil as wat ek by August en haar bye geleer het.

Lily het geleer hoeveel innerlike krag daar in haar skuil en deur die liefde wat die ‘calendar sister’ haar gegee het, het sy selfs nog sterker geword.

Ek het saam met Lily ‘ge-struggle’ oor haar ma wat haar agtergelaat het – en later tot die besef gekom dat sy haar wel wou kom haal het. Ek het ook saam met haar ‘ge-struggle’ oor ‘n liefdelose pa – en later tot die besef gekom dat sy hom net heeltemal te veel aan haar ma laat dink het. Haar ‘struggle’ het verder ook gegaan oor die feit dat sy self haar ma doodgeskiet het, sonder om te besef dat sy as vierjarige dogtertjie dit gedoen het.

Ek het saam met Lily by August geleer (p363) dat: People can start out one way, and by the time life gets through with them, they end up completely different”.

Op ‘n stadium – naby aan die einde van die storie – het ek verbaas gestaan oor my eie sinisme en die feit dat ek regtig nie gedink het hierdie storie gaan ‘n gelukkige einde hê nie. Ek het nogal baie met myself daaroor geredeneer, want sê die een kant vir my, dis ‘n storie en dit moet ‘n gelukkige einde hê. Die ander kant kon net nie glo dat dit ‘n gelukkige einde gaan hê totdat ek die laaste paar blaaie gelees het en besef het, dit is ‘n storie en dit het ‘n gelukkige einde.

Ek was verstom oor my eie sinisme, maar het dankbaar ‘n traan afgevee toe dit wel ‘n gelukkige einde gehad het. Dit het my laat terugstaan en besef dat daar wel gelukkige eindes bestaan; en nie net in storieboeke nie.

Een van die dinge in die boek wat my die meeste bybly, is egter May se woorde in haar selfmoordnota: “It’s my time to die, and it’s your time to live. Don’t mess it up”.

Dit het my laat besef hoeveel ons, ons eie lewens kan ‘opmors’ deur moeilik te glo dat selfs boeke ‘n gelukkige einde kan hê, wat nou nog van die ‘regte’ lewe. Maar dit het my ook met nuwe oë laat kyk na hoeveel seëninge en geluk daar elke dag in my lewe is; ek glo dat ook my storie (wat reeds elke dag gelukkiger raak) ‘n baie gelukkige einde het.

No comments:

Post a Comment