Friday 20 March 2009

Seisoensverandering

Dis vroegoggende wat ek agterkom dat die seisoen besig is om te draai – dis daardie byt in die lug en son wat eers heelwat later sy kop uitsteek. Op pad werk toe skyn die son direk in my oë, waar ek gewoond was dit is teen daardie tyd al heelwat hoër is. Ek sien reeds enkele blare wat begin verkleur en een van die dae gaan die warmte van die herfskleure op hul manier die naderende koue probeer wegkeer.

En dan kom Paasfees – ‘n ‘seisoen’ op sy eie. ‘n Seisoen wat my opnuut laag kom laat buig voor die Skepper en die groot genade wat Hy aan ons bewys het deur Sy lyding wat tot ons verlossing gelei het.

Daar is egter nou ook ‘n ander seisoensverandering in my lewe: die verandering van werk.

Hierdie is ‘n storie op sy eie wat langer as nege maande strek en waaruit ek baie lesse van geduld en geloof geleer het – maar dis nie waaroor hierdie skrywe gaan nie.

Dit gaan oor die verandering in roetine waarvoor ek my moet gereed maak; nuwe gesagstrukture waaraan ek moet gewoond raak; nuwe kollegas en kantoor-dinge om in ag te neem; en nuwe werksmetodes om aan te leer.

Dit bring mee die einde van ‘n ander seisoen – ‘n seisoen van ‘staatsamptenaar’ wees. Dit was ‘n tydperk waarin ek nie net op ‘n professionele vlak dinge geleer en beleef het nie, maar persoonlik het ek as mens soveel nader aan my God gegroei en ek is so dankbaar vir alles wat Hy my in hierdie tyd geleer het.

Ek sien uit na die geleenthede en uitdagings wat hierdie nuwe seisoen en posisie gaan bring en ek bid dat God self vir my sal wys hoe en waar Hy my in hierdie nuwe omgewing wil gebruik.

No comments:

Post a Comment