Thursday 26 February 2009

Kaalkop

Ek het nog altyd Nataniël se stories geniet – dit is altyd een van die eerste goed wat ek lees as ek enige uitgawe van Sarie oopmaak. Sommige van sy skrywe is skreeusnaaks en ander is hartseer, maar altyd is dit menslik en laat sy beskrywings jou voel asof jy met elke sintuig deel is van die vertelling.

Gister het ek hom vir die eerste keer ooit in lewende lywe op ‘n verhoog gesien. Soos met sy geskrewe stories, het ek dit verskriklik baie geniet – weereens het ek geskater vir sy vertellings en die menslikheid daarin gevind. My gunsteling storie was die van Tant Molla en haar siening oor mense wat nie weet hoe om grand te wees nie.

Tussen sy vertellings deur het hy telkens liedjies gesing en my met die kwaliteit van sy stem beïndruk. Ewe veel was ek deur sy uitrustings beïndruk en hoe vinnig hy kan verklee tussen liedjies en vertellings.

‘n Ander vertelling wat my geraak het, was die van tannie Nola. Aan die einde van die vertelling trek hy ‘n vergelyking tussen ons planeet en tannie Nola. Dit is ‘n boodskap wat ons aanmoedig om ‘groener’ te leef en die aarde op te pas.

Alhoewel dit die eerste keer was wat ek een van sy vertonings gesien het, is ek oortuig dat dit nie die laaste gaan wees nie. Skielik kan ek nie wag vir die volgende uitgawe van Sarie en Kaalkop nie.

Ek moet egter byvoeg dat van my vriende wat al verskeie van sy vertonings gesien het, nie so beïndruk was soos wat hulle met van sy vorige vertonings was nie.

No comments:

Post a Comment