Tuesday 24 March 2009

Illusies

Dis die movies wat jy nie beplan om te kyk nie, die waarvan jy niks weet nie, wat gewoonlik jou aandag vasvang en laat sit en klaarkyk.

Dit het ek gisteraand gedink terwyl ek Lars and the Real Girl gekyk het. Dit was een van daai aande wat jy na Grey’s Anatomy sommer deur die kanale begin ‘surf’ en toevallig op ‘n movie afkom wat pas begin het – en jy kyk maar. Op die ou end het ek met ‘n groot gesukkel my oë oopgehou, want klaarkyk, moes ek.

Lars is ‘n liefdevolle introvert wie se emosionele bagasie hom keer om die lewe werklik ten volle te geniet. Na ‘n lang tyd wat Lars in homself gekeer is, nooi hy vir Bianca – ‘n vriendin wat hy klaarblyklik oor die internet ontmoet het – om te kom kuier. Wanneer hy haar egter aan sy broer en skoonsuster voorstel, is hulle stomgelaan. Want sien, Bianca is ‘n lewensgroote pop en Lars behandel haar asof sy lewendig is. Die familie konsulteer ‘n dokter, wat verduidelik dat Bianca ‘n illusie is wat hy self geskep het. Die dokter kan nie die rede daarvoor vasstel nie, maar besluit dat sy en die familie moet ‘saamspeel’.

‘n Emosionele reis volg oor Lars en die mense rondom hom; dit vertel die storie van ‘n hele gemeenskap wat later ‘saamspeel’, tewryl Lars bly vasklou aan die illusie tot die dag van Bianca se ‘dood’ en ‘begrafnis’.

Die verhaal laat my wonder oor die illusies wat ons elkeen skep en aan vasklou. Beteken die feit dat die illusies waarin ons leef, wat nie hele gemeenskappe betrek en soos Bianca daar is vir die wêreld om te sien nie, noodwendig dat ons meer ‘normaal’ as Lars is?

Bianca en Lars

No comments:

Post a Comment