Monday 16 March 2009

Om te vergeet ... of nie?

Na ek nou al vir letterlik jare dreig, het ek eindelik die naweek daarby uitgekom om Eternal Sunshine of the Spotless Mind te kyk! En wat ‘n aangename verrassing was dit nie.

Die film self is briljant, dalk bietjie weird, maar briljant. Dit sluit nou alles in van die toneelspel, die storie en die kamerawerk. En dan is dit nog sterbelaai ook!

Die fliek gaan daaroor dat twee mense elkeen ‘n fiktiewe ‘non-surgical’ prosedure ondergaan wat hul herinneringe aanmekaar vir ewig sal uitwis nadat die verhouding tussen hulle verbrokkel het. Die dag nadat die prosedures gedoen is, ontmoet die twee mekaar asof vir die eerste keer – met geen idee van die tyd wat hulle voorheen saam spandeer het nie. En net soos met hul eerste ontmoeting, word die twee na mekaar toe aangetrek. Daar is ook ‘n ander geval in die film waar iemand aangetrokke is tot ‘n persoon van wie die herinneringe uit haar geheue gewis is.

Dit laat my wonder oor die konsep van ‘meant to be’ – en mense wat gekies het om te vergeet van iemand en alles wat hulle met daardie persoon gedeel het, om net weer verlief te raak op / lief te raak vir daardie persoon.

Ek sal egter nooit wil vergeet nie. Daar was verhoudings in my lewe waarvan ek direk daarna wou vergeet – bloot om van die seer ontslae te raak. Maar aan die ander kant is dit die onthou wat jou herinner aan die lesse wat jy uit daardie verhoudings geleer het en dinge wat jy volgende keer anders sal doen, voor sal uitkyk of heeltemal vermy.

Ek is glad nie oortuig dat daar wel ‘eternal sunshine’ in die ‘spotless mind’ is nie.

1 comment:

  1. Anonymous3:59 pm

    Dis inderdaad 'n besonderse fliek en een van my gunstelinge!

    ReplyDelete