Monday 5 January 2009

Gedagte vir 2009

Vir die eerste keer in baie jare was ek nie deel van die beplanning van ‘n groot nuwejaarsopskop nie. En ek was heel content met die stand van sake. Rustige nuwejaarsvieringe was presies wat ek nodig gehad het.

Oujaars- en nuwejaarsdag het ek en my geliefde tyd saam met my familie spandeer. Ek dink dit is ‘n groot voorreg om die verandering van die jaar saam met die te spandeer wat regtig vir jou belangrik is. Die mense wat jou deur die ou jaar gedra het toe jy nie self kon loop nie; die wat jou hand vasgehou het en herinner het dat hulle altyd by jou sal staan; die wat jou in geloof gehou het en aan jou gedink het in hul gebede.

Dus was dit vir my baie van pas om die jaar saam met daardie mense in te gaan. Rustig en vol vrede en vreugde in my gemoed.

Voornemens
Ek is nie ‘n groot ‘maker’ van nuwejaarsvoornemens nie. ‘n Mens hou retrospeksie van die jaar wat verby is, besin oor wat jy weer sal doen, anders sal doen en die keer eerder sal vermy; ‘n soort voorraadopname van jou lewe. Ek sien dit as ‘n tyd waarin ek reflekteer op wat ek geleer het en in watter opsigte ek as mens gegroei het.

My voornemens vir 2009 is dus nie lang lyste lewensveranderende dinge nie. Dit is eerder leefstyl- en roetine-veranderinge wat ek wil maak:

Ek wil gesonder leef, maar gaan nie noodwendig ‘n diëet of oefenprogram slaafs navolg nie – ek wil bloot gesonder en beter oor myself voel.

Ek wil meer skryf en meer skilder. Dit is dinge wat jou siel op so ‘n wyse verryk dat jy nie net self daaruit put nie, maar soms onwetend ook ander lewens aanraak.

Ek wil elke oomblik in 2009 laat tel. Dit wat ek doen (hoe onbenullig dit ookal blyk te wees), wil ek met oorgawe doen.

Ek wil meer tyd saam met my geliefde spandeer, saam met my ongelooflike familie en my kosbare vriende.

Gedagte
Hierdie dinge is egter nie beperk tot 2009 nie. Dit is dinge wat ek graag so wil hê in die jare wat kom. Daarom haal ek dus graag vir Hal Borland aan:

Year's end is neither an end nor a beginning but a going on, with all the wisdom that experience can instil in us.

Mag dit wat ons in 2008 beleef het ons lei om dit wat 2009 bring met wysheid te hanteer.

Mag elkeen wat hier lees ‘n besondere en geseënde jaar hê!

No comments:

Post a Comment