Tuesday 17 October 2006

teleurstelling

Naas verwerping kan ek my nie 'n slegter menselike emosie voorstel as teleurstelling nie. Daardie absoluut gevoel van magteloosheid dryf my altyd tot selfondersoek.
Wanneer dit teleurstelling in myself is, is die selfondersoek diep gewortel in selfkritiek. Ek vra oneindig baie vrae... waar ek verkeerd gegaan? Hoekom het ek die of daai besluit geneem? Hoe gaan ek dit volgende keer benader om 'n ander uitkoms te verseker? Maar in 'n mate is dit darem opbouend - ek kan dalk iets daaruit leer om dinge volgende keer op 'n ander manier te hanteer.
Maar wanneer dit teleurstelling in ander mense is, is dit 'n verslaendheid wat selfondersoek eerder soos selfverwyt laat lyk. Ek is ongelukkig en selfs briesend kwaad vir myself. Hoe kon ek ooit toelaat dat iemand so groot indruk op my maak dat die teleurstelling so verskriklik groot is wanneer hulle iets doen wat ek die minste verwag? Iets wat my so diep skok? Hoe kon ek so blind wees vir hul foute? Wat is fout met my oordeel? Die vrae hou net nie op nie, want sien, hier gaan dit nie oor wat ek anders kon doen nie - dit gaan oor hoe ek anders kon wees. In my denke en in my oordeel. En ek verwyt myself omdat ek so blind of dom kon wees om sekere dinge nie te sien of te snap nie. Of hoe ek so naïef kon wees om elke woord te glo wat vir my vertel is. En dan is die teleurstelling eintlik (weer) in myself...

1 comment:

  1. Anonymous7:51 am

    soms maak die lewe lelike draaie...

    ReplyDelete