Monday 23 October 2006

spinnerakke

'n Dreigende storm jaag my na binne. En al wat my binne te doen staan is om die spinnerakke, wat my maande lank al vanuit 'n hoek uitlag, af te stof. Maar ek is te bang vir wat ek vasgevang in die web gaan vind. Stof. Vlieë. Muggies. Motte.

En heel agter, in die verste, donkerste hoek, dreigend soos 'n monster wat my gaan gryp as ek nader kom, 'n groot, swart, harige spinnekop. Die een wat ek heeltyd vermy. Die een waar om ek afstof en skoonmaak. Die een waarvoor ek te bang is om te naby te kom. Die een wat my maande lank tart. Die een wat my laat wonder wat hy reeds alles verslind het sonder dat ek dit agtergekom het. Die een wat vir my gaan loer en lag tot ek die dag die guts het om hom met Doom te spuit of met 'n tekkie teen die muur te vermorsel.

Daarom vermy ek die taak. Weereens. Maak of ek dit nie sien nie. Maak of dit nie bestaan nie. Maar ek weet ook dat hoe langer ek uitstel hoe digter word web toegespin. Hoe meer goed word daarin vasgevang. En hoe moeiliker is dit om die harige spinnekop in die hoek uiteindelik uitgeroei te kry.

No comments:

Post a Comment