Thursday 30 July 2009

Dankbaarheidsgebed maak my skaam

Gisteraand het ons weer besoek by Kosmos afgelê. Soos gewoonlik was dit 'n groot vreugde. Die seuns se energie is aansteeklik en ek is sommer vanoggend in 'n besonderse goeie bui. Ons het heerlik saam met hulle gekuier, pizza geëet en voor slaaptyd eers 'n Bybelstorie en toe een van die drie musketiers gelees.
Voor ete vra ons wie vir die kos wil bid en Marius* (ek skat hom so sewe of agt jaar oud) bied aan. Nog nooit het 'n kind se gebed my so aan die hart geruk nie. Hier is 'n kind wat in 'n kinderhuis bly, maar oorloop van dankbaarheid dat hy wel 'n huis het om in te bly en kos het om te eet. Nadat hy oor en oor dankie gesê het vir dit wat hy het, het hy begin bid vir die straatkinders wat nie kos het nie en wat koud kry. Hy het spesifiek gebid vir die wat in die strate en in tonnels moet slaap en wat nie mense het wat vir hulle omgee, soos wat hy het nie.
Nou vra ek myself af: As 'n kind wat in 'n kinderhuis bly (en meestal van ander se goedhartigheid afhanklik is) so dankbaar is vir sy omstandighede en vir dit wat hy het, en in gebed intree vir die wat veel minder as hy het, wat gee my die reg om so dikwels met die witbrood onder die arm te kla? Ek is skaam omdat ek nie altyd genoeg dankbaarheid toon vir dit wat ek so mildelik ontvang nie. En ek skaam omdat ek nie altyd besef nie dat dit wat ek gee vir die wat minder as ek het, nie noodwendig genoeg is nie, maar dat hulle ook my gebede so bitter nodig het.

1 comment:

  1. Ons vergeet so maklik dat alles wat ons het, net genade van God is. Dit is nie uit onself wat ons al hierdie dinge bereik het nie.
    Dit maak my so hartseer as ek hierdie spul mense wat om my bly sien wat hulle huishulpe so sleg behandel, terwyl hulle soveel oorvloed het! Hoe kry jy dit oor jou hart om vir jou huishulp wat R1 500 'n maand verdien, net twee koppies koffie 'n dag? Verwag dat sy 'n hele week lank weg moet wees van haar gesin af, maar sy het nie 'n tv of radio in haar kamer nie, maar jy het 4 in jou huis? Hoekom nie van jou oorvloed gee nie?

    ReplyDelete