Monday 13 July 2009

Welgevonden

En ons het dit inderdaad wel gevind!

Ons was die naweek op Welgevonden natuurreservaat wat deel vorm van die Marekela Nasionale Park wat ongeveer 25 km noordwes van Vaalwater in die Limpopo Provinsie lê. Die naweek was een van rus, goeie geselskap, heerlike kos en lang wildsritte.

Daar word geen privaat voertuie in die reservaat toegelaat nie, wat bydra tot die absolute stilte en saligheid. (Voertuie word in 'n area by die hoofhek parkeer, vanwaar jy dan met 'n Land Cruiser na jou lodge geneem word.) Die feit dat daar slegs akkommodasie vir tien mense in die lodge is, het ook bygedra tot die rustigheid wat ons daar ervaar het.

Ons het in lieflike chalets gebly, elk met 'n kaggel, buitestort en stoep vanwaar jy 'n asemrowende uitsig oor die bosveld kan geniet terwyl bokke tussen die chalets wei.

Die naweek was vol hoogtepunte: Die aande het ons heerlik om die vuur gekuier terwyl die sterre in 'n skouspel bo ons geblink het en gisteroggend se sonsopkoms was ook spesiaal.

So het elke wildsrit ook sy eie hoogtepunte gelewer.

Vrydagaand kyk ons nog een oomblik nog hoe 'n seekoeibul staan en vreet, toe hy skielik omdraai en in volle vaart die water inhardloop. Dit het kompleet gelyk asof hy daar induik.

Saterdagoggend het ons drie leeuwyfies rustig in die skadu van 'n boom gesien lê terwyl twee welpies om hulle gespeel en later aan 'n hul ma gaan drink het.

Sondagoggend het ons 'n leeumannetjie en drie renosters gesien (waarvan een nog 'n kleintjie was).

Verder het ons, onder andere, ook rooibokke, blouwildebeeste, koedoes, rooihartbeeste, kameelperde, sebras en vlakvarke gesien.

Behalwe vir die feit dat my Liefie siek teruggekom het, het ons 'n fantastiese naweek in die bos gehad. Hier is 'n paar naweekfoto's wat ek met toestemming van my Liefie plaas.

No comments:

Post a Comment