Wednesday 22 July 2009

Luister na daardie stemmetjie

'n Week of so gelede het ek 'n boodskap van 'n ou universiteitsvriendin gekry. Lynette* het oor my gewonder, 'n google-soektog gedoen en my opgespoor waarna ek 'n epos gekry het oor hoe dit met haar gaan.

Ek en Lynette het saam op 'n komitee gedien en uit die aard van die saak relatief baie tyd saam spandeer (alhoewel ek haar nooit as een van my "beste" vriendinne beskou het nie). Toe ek teen die einde van daardie jaar die universiteit verlaat en Lynette agterbly, was sy in 'n diep donker gat van depressie (as gevolg van meer redes as wat ek seker ooit sal kan raai).

Ons het nie regtig kontak behou nadat ek weg is nie, maar toe iemand later vertel hoe sleg dit met Lynette en haar depressie gaan, het ek besluit om vir haar 'n brief te skryf. Ek kan in alle eerlikheid nie 'n enkele woord onthou wat ek in daardie brief geskryf het nie. En dit was die einde van ons kontak.

Drie jaar later ry ek een Desember-middag uit by 'n motorhawe in Colesberg op pad terug van vakansie af toe 'n ander motor inry; vir jare daarna het ek nog gewonder of ek my verbeel het toe ek gedink het Lynette was in daardie motor.

Nog vyf jaar later kry ek 'n epos van Lynette af (en ja, dit was sy in die ander motor). Sy het my opgespoor en vertel hoe dit gaan. Vanmiddag het ek weer epos van haar gekry en dis hier waar ek by die punt van my storie wil uitkom. Lynette se epos het my hart vanmiddag terselfde tyd laat huil en juig. Dit het gelees:

I was going through my memory box last night and I found the card and the letter you sent me so long ago. I just wanted to say thanks for them. I don't think you'll even know how much of a difference it made.

Ek het die brief beantwoord, maar dit nooit gepos nie. As ek lees wat ek destyds geskryf het, sjoe. Dit maak my hartseer om dit te lees, want ek besef hoe diep ek in my depressie verval het. Ek is ook gelukkig dat ek so ver gekom het en soveel gegroei het.


Dit beteken vir my so baie om na agt jaar te weet dit het 'n verskil gemaak en ek is so dankbaar dat dit nou goed gaan met haar. Soos ek gesê het, ek het geen idee wat ek in daardie brief geskryf het nie, maar dis genoeg om te weet ek het geskryf wat sy nodig gehad het om te hoor.

Dis vir my genoeg om te weet ek het na daardie "stemmetjie" geluister wat vir my gesê het om die brief te skryf en wat om daarin te skryf. Ek besef van vooraf dat wanneer ons "gevra" word om iets vir iemand te sê of te doen, ons dit MOET doen. Soms besef ons nie eers dat mense op ons pad geplaas word omdat daar iets spesifiek is wat ons vir hulle moet sê of doen nie. En meestal sal ons nooit eers besef dat ons iets vir iemand beteken het nie.

Dis so lekker om te weet ek kon iets vir Lynette beteken, maar dis selfs lekkerder om te weet dat dit nou so goed gaan met haar.

My pleidooi aan Lynette is nou dat sy nooit daardie stemmetjie sal ignoreer as sy gevra word om iets vir iemand te doen of te sê nie. Ek hoop sy sal besef in watse wonderlike posisie sy nou is om ander te ondersteun wat deur dieselfde donker dieptes gaan waardeur sy is. Ek wens dat sy nie die verandering wat in haar lewe plaasgevind het vir haarself sal hou nie. En ek bid dat almal van ons altyd daardie stemmetjie sal gehoorsaam, want ons sal nooit weet waar en wanneer en hoe God ons as Sy instrumente gebruik nie.

No comments:

Post a Comment