Thursday 9 July 2009

The Megaphone of Hope

Wanneer jy genoeg tyd saam met mense spandeer, begin jy agterkom wat die belangrike dinge in hul lewens is. Jy sien hul 'lewensboodskappe' deur hoe hulle optree en hul houdings. In moeilike tye sien jy egter hoe daardie boodskappe uitgedoof of versterk word.

Watter boodskap stuur jou lewe uit en wat maak jy daarmee in moeilike tye?

Ek het gisteraand deel 2 van Louie Giglio se DVD HOPE: When Life Hurts Most gekyk; dis getiteld: The Megaphone of Hope. In hierdie deel praat hy oor die boodskappe wat jy uitstuur in moeilike tye. Dis in sulke tye wat dit hard en duidelik (soos deur 'n megafoon) na die wêreld uitbasuin word wat jou werklike karakter is en waar jy jou hoop vind.

Daar is verskeie punte waaroor ek na die tyd nagedink het:
* Waarheen draai ek vir hulp wanneer ek in die stroomversnellings van die lewe vasgevang word?
* Wat is die boodskap wat ek dan na die wêreld stuur?
* As my houdings in moeilike tye 'n megafoon word vir die boodskappe wat ek uitstuur, sal dit die dinge wat vir my die meeste beteken óf uitdoof óf versterk. Wat maak my houdings in sulke tye met die dinge wat my die naaste aan die hart lê?

Die meeste mense stuur in sulke tye 'n boodskap van selfbehoud uit. Alhoewel dit nie opsigself 'n slegte ding is nie, kan daardie boodskap jou moontlik laat 'ontspoor' deur na die verkeerde plekke te draai vir troos en hoop. Indien jou boodskap is om God te verheerlik, kan geen las daardie boodskap ooit uitdoof nie. In teen deel, daardie boodskap sal versterk word en God sal deur jou swaarkry verheerlik word.

God kan ons swaarkry baie beter tot sy getuienis en verheerliking gebruik as ons voorspoed. Ek is nie seker dat dit 'n groot inpak sal hê nie as iemand bloot die hele tyd vertel dat dit net nog altyd met hom goed gegaan het en hoe goed God vir hom sorg. Vat daarteen 'n getuienis van iemand wat van sy swaarkry vertel en hoe God dit omgedraai het en die goeie wat daaruit gekom het.

Nog een van Louie Giglio se stellings wat my opgeval het, is dat indien hy die kans sou hê om enige iets te verander, hy al die swaarkry van die verlede sou uitwis en dinge verander sodat dit nooit gebeur het nie. Dit is immers nie lekker nie en op daardie stadium aaklig om te hanteer. Maar hy kan dit nie verander nie en as dit nooit gebeur het nie, sou hy dalk nie van die goedheid van God en die hoop wat hy in God vind, kon getuig het nie.

Tydens 'n Pinkster-geleentheid nie te lank gelede nie, het die predikant die volgende beeld gebruik. Hy het 'n groot kleipot op die verhoog gehad, maar die pot het 'n paar krake en stukkende plekke gehad en daar was 'n lig binne-in die pot. As daar nie stukkende plekke in die pot was nie, sou 'n mens nooit die lig daarbinne kon sien nie. En dis ook hoe God ons gebruik, Sy lig skyn die beste deur ons gebrokenheid.

Ons weet immers dat daar altyd moeilike tye sal wees, daarom vra ek weer: Watter boodskap stuur jou lewe uit en wat maak jy daarmee in moeilike tye?

I have told you these things, so that in me you may have peace. In this world you will have trouble. But take heart! I have overcome the world. ~ John 16:33

No comments:

Post a Comment