Wednesday 10 June 2009

KOSMOS

Reeds vir 'n paar maande lank soek ons selgroep na 'n geskikte gemeenskapsprojek om by betrokke te raak. Eindelik vind ons toe 'n huis wat deel van 'n plaaslike kinderhuis vorm. Die spesifieke huis se naam is KOSMOS, en ons vind dit so gepas, want liefde KOSMOS niks.

Dit is vir my onbeskryflik hoe aansteeklik die energie en entoesiasme vir die projek is. Dit versprei soos 'n veldbrand wat almal wat daarvan hoor se harte aan die brand steek.

Daar woon 12 seuns tussen die ouderdomme van 7 en 15 jaar in hierdie huis wat almal groot behoeftes het. Aan die een kant wil ons die letterlike koue huis vir hulle warm en huislik maak. Aan die ander kant wil ons die warm liefde in ons harte met hulle deel in 'n poging om in hul emosionele en geestelike behoeftes te voorsien.

Geldelike bydraes stroom in oorvloed in en ons kon reeds vir elke seun lekker warm winterpajamas koop. Ons groot projek is egter om die papierdun matrasse met ordentlike matrasse te vervang sodat die jong lyfies elke aand 'n goeie nagrus kan hê om te verseker dat hulle deur die dag, seuns in elke sin van die word kan wees.

Dit maak my opnuut dankbaar vir wat ek het. Dankbaar dat die Vader in elkeen van my behoeftes voorsien en dat ek uit hierdie voorsiening met ander kan deel wat nie so bevoorreg is nie. Dankbaar dat ek Matteus 10:8(b) se opdrag kan uitvoer soos dit in die New Living Translation staan: "Give as freely as you have received."

Vir my is die grootste seën egter om meer as net materiële dinge vir hierdie seuns te kan gee. Ons kan Jesus se hande en voete vir hulle wees. Hierdie kinders honger na die liefde wat ons so dikwels (net soos materiële dinge) as vanselfsprekend aanvaar.

Mag elkeen van ons die liefde in ons deel waar ons ook al gaan en waar ons ook al betrokke is – en selfs op straat, want liefde KOSMOS niks.

1 comment:

  1. Annelie, jy stel dit so goed! Die oomblik wat ons betrokke geraak het by hierdie kids het ons almal se lewens radikaal verander! Ons het op gehou om in te kyk en begin om buitekant toe te kyk! Awesome!

    ReplyDelete