Monday 15 June 2009

Kookles

Ek is nie seker of ek dit sou glo as iemand my vertel het hoeveel pret 'n kookles kan wees nie. Vrydagaand het ons 'n kookles bygewoon as deel van 'n groep van 10 mense vir 'n vriend se verjaardag.

Ons het hope pret gehad! Ek het lanklaas so lekker saam vriende gelag en gekuier. Dit was so anders as die gewone verjaardagpartytjie waar jy gewoonlik aan tafel sit en kuier terwyl jy bedien word.

Vrydag het ons die Italiaanse kookklas by
Antoinette's Cookery School in Centurion bygewoon. Ons is met 'n glasie sjerrie deur Antoinette verwelkom – sy is 'n vriendelike innemende mens wat ons dadelik tuis laat voel het. Ek het later gedink dat haar persoonlikheid 'gemors' sou wees as sy bloot net 'n sjef was wat êrens in 'n kombuis agter potte gestaan het. Sy is perfek om 'n kookskool te bestuur en klasse aan te bied.

Sy het ons eers bietjie agtergrond gegee oor Italiaanse kos en olyfolie en ons selfs aan verskillende tipes olyfolie laat proe. En toe begin die pret.

Die eerste dis was nagereg (omdat dit die langste neem om te stol). Eiers is geskei waarna ons verwoedelik met draadklitsers begin klits het om die eierwit styf te kry en daarna by die res van die bestanddele in te vou. Ons het vingerkoekies in koffielikeur laat week en in die proses het elkeen sy en haar eie klein tiramisu gebou.

Om eg Italiaans te bly, het ons focaccias gemaak. Ons het eers die deeg geknie op die maat van Abba. Ek moet sê ek is innig dankbaar vir kitsgis en dat dit nie nodig was om brood te bak soos my ouma dit gedoen het nie. Die dames s'n was plat met olywe, roosmaryn en growwe sout op terwyl die manne stromboli gemaak het gevul met songedroogde tamaties, pepers en fetakaas. En almal was vol meel.

Daarna het ons begin met die pasta. Weereens was daar oral meel. Die deeg is gemaak en uitgerol. En weer uitgerol. En nog 'n keer of twee uitgerol. En toe gesny. Toe verdeel ons is groepies van twee en elke groepie was verantwoordelik vir 'n pastasous. Ek en liefie het 'n sampioen-en-knoffelsous gemaak. Daar was ook 'n driekase-sous, hoender-en-sampioensous, frikkadelle en tamatie en 'n pastagereg met botterskorsie.

Toe al die disse eindelik gereed was, het ons om 'n lang tafel aangesit, begin smul en heerlik gekuier. Dit was die meeste pret wat ek in 'n baie lang tyd gehad het en sien uit om ook van Franse, Griekse, Marokkaanse kos en sushi by Antoinette te gaan leer.

Ek kan dit beslis aanbeveel vir enige iemand wat belangstel in 'n aandjie saam met vriende wat anders as dit is waaraan ons gewoond is.

No comments:

Post a Comment