Sunday 14 June 2009

Wat sê 'n mens?

Vroeg gisteraand kry ek 'n sms wat my tot in my diepste wese tot stilstand ruk. Dit lees: Ons Liewe Vader het besluit my liefling moet Huis toe kom. Marius is vanmiddag oorlede na hy met motorfiets geval het by Kayalami.

Wat sê 'n mens? Wat sê 'n mens vir jou vriendin van die afgelope vyf jaar wat 'n paar dae gelede nog vertel het hoe goed dit in haar gesin gaan en hoe lekker dit is om 'n 'stay at home mommy' te wees? En skielik is haar man nie meer daar nie. Skielik is haar wêreld in skerwe geruk. En steeds moet sy aangaan.

Hoe verduidelik jy vir 'n sewejarige seuntjie en sy sussie wat binnekort drie word dat Pappa nie weer huis toe kom nie? Hoe maak jy jou babadogtertjie van drie maande groot met die die wete dat sy nooit haar Pappa geken het nie.

Suretha, ek weet nie wat om vir jou te sê nie en ek weet jy weet ook nie hoe om aan te gaan nie.
Maar wat ek weet is dat jy baie sterker is as wat jy dalk nou besef.
Ek weet dat jy 'n wonderlike familie het wat jou elke dag in liefde bystaan.
Ek weet dat jy opregte vriendinne het wat in 'n oogwink daar sal wees as jy hulle nodig het.
Ek weet dat jy 'n fantastiese ma is wat jou kinders volgens Sy wil grootmaak.
Ek weet dat die Gees van God in jou is en dat jy Sy krag ken.
En ek weet dat jy weet hoe afhanklik jy daarvan is.

My liewe vriendin, ek weet steeds nie wat om vir jou te sê nie. Maar ek dra jou in my gebede. God het sy Trooster vir ons uitgestort sodat ons nooit alleen sal wees nie en ek bid dat Hy jou ook nou sal vertroos en vashou.

No comments:

Post a Comment