Thursday 21 December 2006

Einde van die jaar

Vandag is (uiteindelik) my laaste werksdag vir 2006!
(En hierdie sal dan ook my laaste post vir 2006 wees.)

Gedurende die eerste week van my twee weke vakansie, gaan ek die Kersgety saam die familie spandeer en daarna nog 'n week net vir myself.

'n Week waarin ek soveel moontlik tyd met myself wil spandeer.
Annelie-tyd, soos ek dit noem. 'n Tyd waarin ek sommer net wil rondry en foto-geleenthede soek; uitkom by al die boeke wat ek gedurende die jaar gekoop het maar nooit tyd gehad het om te lees nie; en al die goed wat in my kop is neerskryf. En dan natuurlik die gewone clichè-agtige, maar baie nodige einde-van-die-jaar retrospeksie...

Die tyd waarin ek alles wat ek in 2006 gedoen het en besluite wat ek geneem het gaan evalueer. Ek gaan nou nie my polse afkou oor die verkeerde besluite of die foute wat ek gemaak het nie, net daaroor besin sodat ek dit nie weer doen nie of volgende keer anders hanteer. En selfs nadink oor die 'beter' foute - die soortvan right kind of wrong' foute.

Maar vir eers, wil ek nog nie te veel daaroor dink nie - dis immers nog 'n week voor ek beplan om daarby uit te kom. Ek wil nie nou al te ernstig raak nie, ek wil nou net die vrede en vreugde en gees van Kersfees indrink en die liefdevolle saamwees met familie geniet.

Mag elkeen wat my na aan die hart lê Kersfees saam hul geliefdes geniet en mag die seën wat dit bring, regdeur 2007 met jul wees.

No comments:

Post a Comment