Wednesday 11 February 2009

Negatiewe gedagtes

Gister was ek briesend oor die onhulpvaardigheid van die mense wie se trok in my vasgery het. Ek skakel hulle om uit te vind hoe ek hulle kan help om my te help om die proses om my kar reg te maak te versnel, net om ‘n ongeskikte persoon aan die ander kant te kry wat glad nie bereid is om te luister na wat ek sê nie – en dit terwyl ek haar probeer help.

Ek was op die punt om hier te skryf oor hoe ongelukkig ek en is uit te vaar teen die persoon. Maar skielik besef ek dat ek die negatiewe gedagtes moet laat gaan en ek besluit om die situasie vanuit ‘n ander hoek te probeer benader.

Ek sien dit as bloot nog ‘n hekkie op my pad wat my fiksheid gaan toets; om te sien of ek in staat is om daaroor te spring. Dit gaan toets of ek die geduld en geloof het om te vertrou dat ten spyte van die onhulpvaardigheid van ‘n sekere Brenda, alles tog vinnig uitsorteer sal word en my kar reggemaak sal word.

Vanoggend is my besluit om anders na die situasie te kyk bevestig deur die daaglikse Word@Work epos in my inbox. Die teksvers vir die dag is Jakobus 1:2-3:
Consider it pure joy, my brothers, whenever you face trials of many kinds, because you know that the testing of your faith develops perseverance.

Die verduideliking van die verse kom daarop neer dat die klein toetse wat oor ons pad kom, die toets is van hoe ons die groot dinge gaan hanteer. God laat hierdie dinge in ons lewens toe sodat ons op Sy wysheid en krag sal vertrou en volhard in geloof. Ek weet ek moet rustig raak oor die situasie, al die negatiewe gedagtes teenoor Brenda laat gaan en geduldig vertrou dat sy alles in haar vermoë sal doen om my te help.

Sommige dinge is baie makliker gesê as gedaan, maar ek vertrou dat ek dit wel so sal hanteer.

No comments:

Post a Comment