Tuesday 10 February 2009

'n Ander perspektief

Ons ken almal die geskiedenis van ons land; die detail van die Anglo Boere Oorlog is deur onderwysers in ons gedril; ons ken die name van die Boere Generaals en Britse besetters; ons weet wie by watter veldslae geseëvier het; en ons ken die statestiek van konsentrasiekamp-sterftes.

Die afgelope week of twee het ek egter kennis gemaak met ‘n ander kant van daardie oorlog wat skaars meer as ‘n honderd jaar gelede geeïndig het. Ek het PG du Plessis se Fees van die Ongenooides gelees. Alhoewel die verhaal in ‘n bekende milieu afspeel, is dit ‘n mens-verhaal. Dit vertel die storie van ‘n familie ten tye van die oorlog, as leser ervaar jy die emosies en agressie wanneer die eerste die eerste gerugte van oorlog kop begin uitsteek; die vrees wanneer die mans die eerste keer veld toe gaan; die onsekerheid van vroue wat alleen op plase agterbly; die verslaenheid wanneer Britse soldate die onmenslike opdragte uitvoer om plase af te brand, te verwoes en diere voor die voet dood te skiet voor hulle die vroue en kinders in haglike omstandighede inkamp waar duisende gesterf het.

Dit is vir my duidelik dat Du Plessis sy navorsing baie deeglik gedoen het en die geskiedenis briljant weergee, en nooit laat hy die menslike aspek uit nie. Die storie van die Van Wyks, Minsters, Joey Drew en Majoor Brooks het my soms briesend gehad vir die onregte wat gepleeg is; soms moedeloos met die slapgat-geit van ‘n sekere karakter; soms hartseer oor die verliese; maar altyd vol deernis vir ‘n situasie waarin ek nie eers kan begin om myself in te dink nie.

Dit is ‘n verhaal van menslike dramas en tevergeefse liefde, wat ook vrae vra oor onthou en vergeet - of eerder wat ons verkies om te onthou of te vergeet. Dit het my verder ook met met nuwe oë na die geskiedenis laat kyk en my laat sien hoe die Engelse letterlik feesgevier het met die lewens en besittings (en dalk selfs die toekoms) van ons voorgeslagte.

No comments:

Post a Comment