Monday 12 October 2009

Thula-thula

Meer as twee jaar gelede het ek het hier oor Elbie Lotter se Dis ek, Anna geskryf. Ek het nie veel geskryf nie, ek was te hartseer oor dit wat ek gelees het en omdat dit uit die skrywer se eie ervaring geskryf is.

Vandag sit ek en wik en weeg of ek oor 'n ander boek moet skryf wat ek gelees het oor min of meer dieselfde onderwerp. 'n Boek wat my dieper geruk het as wat ek gedink het moontlik is. Een wat my na minder as 30 bladsye byna laat ophou lees het.

Jy moet nogal staal in jou pype hê om deur die grafiese beskrywings en emosionele uitputting van Thula-thula (deur Annelie Botes) te lees.

Die verhaal speel oor vier dae af en vertel van Gertruida wat oor 'n tydperk van 22 jaar deur haar eie pa verkrag en gemolester is. Die verhaal begin op die dag na haar ouers se begrafnis en eindig op 31 Augustus 2008. Dit word uit Gertruida se eie onthou vertel, terwyl sy haar ouers se besittings uitgooi om verbrand te word en haarself só simbolies te reinig. Daar is egter ook 'n ander perspektief – dié van Mama Thandeka wat so te sê vir Abel (Gertruida se pa) grootgemaak het.

Abel is 'n vrome kerkmens en 'n gesiene man in die gemeenskap, maar 'n monster wat sy eie dogter van haar onskuld ontneem. Almal op die plaas waar hulle bly weet wat gebeur, maar bly stil (thula-thula).

Susarah (Gertruida se ma) bly stil, omdat sy self as kind aan so 'n wreedheid onderwerp was en sy gebruik haar seuntjie wat vroeg dood is as verskoning om haar van haar gesin onttrek. Mama Thandeka bly stil, omdat Abel soos 'n eie kind vir haar is – en sy ook 'n kind by hom het.

Gertruida bly stil, omdat sy nie weet hoe om uit die situasie te ontsnap nie. Die situasie bied haar ook 'n ongesonde "bargaining tool" vir alles wat sy wil hê – anders gaan sy praat. Verder stry sy tussen die liefde vir haar pa en die haat vir Abel. Dan is daar ook die feit dat sy gesien het hoe iemand wat sy goed ken en met wie dieselfde gebeur het, gepraat het. Deur te praat het Andrea haar pa in die tronk laat beland en is haar gesin in armoede gedompel weens die gebrek aan 'n pa se inkomste.

Alhoewel ek niks in gemeen het met wat met Gertruida gebeur het nie, glo ek dat elke leser, net soos ek, inspirasie uit haar oorlewingsdrang en -krag kan put. En ek onthou hoe ek, soos Gertruida, 'n hoofstuk van my lewe op 31 Augustus 2008 afgesluit het. Dit was 'n baie emosionele, maar beslis die bevrydenste, proses van my lewe.

Ek sal nie sommer die boek aanbeveel nie, want die werklikheid gaan jou hard tref. En werklikheid is dit beslis, want Annelie Botes het haar navorsing baie deeglik gedoen; sy het kundiges op alle gebiede gebruik: sielkundiges, dokters, hofbeamptes, regsmense, maatskaplike werkers, polisie en selfs boere. Sy het ook deur 'n menigte gevallestudies gewerk wat nie net situasies beskryf nie, maar ook die realiteit van bloedskande-statistiek in Suid-Afrika.

Die laaste woord oor hierdie onderwerp en boek laat ek vir Dalene Matthee – uit haar boek Fiela se kind: "Die Here vergewe mens baie dinge, maar die skade wat jy 'n kind aandoen, vergewe Hy jou nooit nie."

1 comment:

  1. Die boek het my ook net so geruk. Ek dink geen mens bly ongeraak met die lees daarvan nie, maar in my het 'n diep-diep woede agtergebly oor 'n gemeenskap wat hulle blind gehou het vir hierdie onreg teenoor 'n kind. Eintlik behoort hulle almal eendag verantwoording te moet doen hiervoor.

    ReplyDelete