Monday 4 December 2006

Melville vyfuur

Daar is ‘n buzz in die lug soos die hip en trendy van Johannesburg op ‘n bewolkte Melville se strate begin toesak. Dis vyfuur en die area begin lewe. Die tafels en stoele op die sypaadjies voor die talle quaint en queer restaurante begin volraak. Ek hou die mense dop en dink ‘n storie vir elk van hulle uit.

Twee sakemanne sit agteroor en maak hul dasse los terwyl hulle vir hul drankies wag. Beide hou hul baadjies aan – daar is ‘n byt in die lug. Die blonde een steek rustig ‘n sigaret op en dis vir my duidelik dat hulle net wil ontspan na ‘n harde dag en vergeet dat daar iets soos ‘n kantoor of moeilike kliente is.

Entjie verder sit nog twee sakemanne, maar hier is geen teken van gemaklik raak en dasse afhaal nie. Die kleiner geboude een van die twee neem leiding met bestellings toe die kelner kom hoor wat hulle wil drink. Ek wonder of hy ‘n potensiele klient onthaal en hom probeer sagmaak om maar tog daardie kontrak te teken.

Skielik is die middelpunt van belangstelling ‘n smeulende donkerkop in ‘n bloedrooi broekpak – naelpolitoer, handsak en lipstiffie met presiesie gekies om perfek daarby te pas. Sy stap met ‘n afgemetenheid na die eerste tafel van die restaurant langsaan en haar lippe vertrek in ‘n breë glimlag toe hulle oogkontak maak. Dis duidelik die blye weersiens van geliefdes.

So verkyk ek my aan groepies wat kuier of die wat alleen met ‘n laptop by ‘n tafel sit en werk. Ek wonder oor elkeen se lewe en werk en in my verbeeldingwereld maak ek ‘n storie oor elkeen op.

So verander vyfuur in skemer en die mense begin hul rekeninge betaal en plek maak vir die aand-crowd. Hiermee saam verander die atmostfees – nie sleg nie, maar anders. Want niks kom by die vibe in Melville om vyfuur nie.

1 comment:

  1. I think your writing is magnificent. Capturing the scenes the way you do. Marvelous!

    ReplyDelete