Monday 23 November 2009

Why I wore lipstick to my mastectomy

Geralyn Lucas het pas by 'n joernalistiekskool gegradueer en 'n droompos gekry. Haar lewe is wonderlik. Maar dan vind sy op 27 uit dat sy borskanker het. Sy kry niemand wat bereid is om met haar te praat oor wat dit beteken om 'n jong vrou met borskanker in 'n skoonheidsbehepte wêreld te wees nie. Alhoewel haar man en baie dokters vir haar die feite gee, is dit nie hulle wat haar help om die besluit (om 'n mastektomie te ondergaan) te neem nie, maar eerder al die engele wat oor haar pad kom wat al in soortgelyke situasies was.

Ek het gisteraand Why I wore lipstick to my mastectomy gekyk – 'n film met dieselfde titel as Geralyn Lucas se memoir. Dit vertel die ware verhaal van hoe Geralyn probeer om haarself te vind terwyl sy haar skoonheid en lewenslus verloor tydens borskanker; in die proses ontdek sy egter selfaanvaarding deur op haar moed, humor en rooi lipstiffie staat te maak.

Alhoewel die film oor Geralyn se siekte en haar onseker toekoms gaan, het sy 'n transformasie ondergaan wat elke vrou kan bemoedig wat al ooit voor keuses te staan gekom het waar hulle moes kies om iets groot te verloor.

Hier is 'n foto wat uit 'n toneel in die film kom - Geralyn het 'n tatoeëermerk op haar bors laat aanbring en daarna vir 'n tydskrif poseer as deel van borskankerbewusmaking. Die byskrif by die foto vat egter die hele film vir my saam:


I placed a tattoo at the end of my scar, because where my scar end, is where my heart – my courage – begins.



Ek glo elke vrou het so baie om van Geralyn en haar situasie te leer – selfs al is jy nie borskankerpasiënt nie. Gaan lees hier oor Geralyn se boek en die werk wat sy doen vir borskankerbewusmaking as ook die ondersteuning wat sy vir ander bied wat deur dieselfde gaan. Kyk gerus die film of lees die boek – en maar hou byvoorbaat 'n groot boks snesies byderhand.

1 comment:

  1. Pragtige pos. Ek het onlangs in Afrikaans begin Blog en is op soek na ander Afrikaanse bloggers om mee te deel. Sou jy belangstel gaan kyk hier: http://ekisanna.blogspot.com/. Moet nie teveel verwag nie, ek is nie 'n skrywer nie en leer nog van blogging. Sou jy vir Anna besoek, laat asseblief 'n opmerking sodat ek kan weet jy was daar.

    ReplyDelete