Thursday 27 January 2011

Angela's Ashes

Vanaf dag een wat ek my skoonma ontmoet het, weet ek dat haar gunstelingboek van alle tye Angela's ashes is. Ek weet dat sy haar nie die lewe sonder die boek kan indink nie. En ek weet dat sy wil hê almal wat sy ken moet die boek lees. Dit is waarom sy nog 'n kopie van die boek gekoop het en vir my gegee het om te lees.

Ek het die boek met 'n verwagting begin lees – 'n verwagting aan 'n wonderlike storie wat briljant geskryf is. Wat ek gevind het, is een van die neerdrukkendste boeke wat ek nog gelees het. Daarmee saam is dit egter ook fassinerend, hartverskeurend en brutaal eerlik teen 'n agtergrond van armoede en swaarkry. Angela's ashes is Frank McCourt se memories van sy grootwordjare tydens die depressie en oorlog in 'n land (Ierland) wat in die wurggreep van tradisie, toenemende armoede, werkloosheid en die Katolieke kerk staan.

Die armoede, die swaarkry, die honger, die vuil klere en die stukkende skoene ruk aan my hart. Die feit dat 'n seuntjie van kleins af moes pa staan vir 'n gesin en moes steel om kos op die tafel te kry, is net so verkeerd. Daar is 'n toneel waar die gesin van vyf persone 'n eier ('n eier!) deel en ek kan my dit nie indink nie. Tog besef ek dat dit in daardie tyd die realiteit in Ierland was. Dit laat my met dankbaarheid kyk na wat ek het en hoe maklik ek dit eintlik in die lewe het.

Die rol wat die Katolieke kerk in die boek (en in werklikheid) speel, maak my met tye briesend! Na sy eerste nagmaal, sê Frank dat hy nou amptelik deel van die ware geloof en amptelik 'n sondaar is, die gedagte aan sy sonde laat hom altyd voel dat hy verdoem is. Op 'n keer het hy vir meer as 'n jaar nie sy sonde aan die priesters bely nie, omdat hy te skaam was daaroor en die kerk het hom so geïndoktrineer dat hy dikwels vas geglo het hy is reguit op pad hel toe daaroor. Vir meer as 'n jaar lank loop hy met 'n berg op sy skouers rond by die gedagte aan sy verdoeminis. Wanneer hy wel op 'n keer sy sonde wou bely, word 'n deur in sy gesig toegemaak. Ek wil nie ander denominasies of gelowe afpraat nie, maar die boek het my weer laat besef hoe geseënd ek is om enige tyd, enige plek direk met my God te kan praat.

Na Frank se 19de verjaardag het hy genoeg geld bymekaar gemaak en gaan Amerika toe.  Dis ook waar die verhaal eindig – by sy eerste aand in Amerika. Die verhaal het my tog met 'n verwagting en 'n hoop gelaat dat daar vir hom 'n beter lewe gewag het. En dit klink vir my of dit wel die geval was. Ek lees op Wikipedia dat hy later aan die New York University gegradueer het, hy het op 66-jarige ouderdom begin skryf en verskeie pryse vir sy werk ontvang voor hy in 2009 oorlede is.

Angela's ashes is nie 'n mooi storie nie, maar dis 'n wonderlike verhaal en ek kan verstaan waarom my skoonma so gek oor die boek is.

No comments:

Post a Comment