’n Goeie vriend het ’n tyd gelede ’n pragtige skrywe gedeel oor hoe
dankbaar hy is as hy oor die afgelope tien jaar van sy lewe terugkyk en die
dinge wat kanker hom geleer het. Een van
die dinge wat hy geskryf het, en wat my van gister af by my bly spook, is "dat die persoon wat soms sleg lyk in die mall, dalk 'n goeie rede het".
Gistermiddag is ek onmiddellik vies vir die onvriendelike kassier in Clicks
en ek wil haar summier vra waarom sy so onvriendelik is. Iets keer my en ek vra
eerder of sy ’n moeilike dag gehad het (die opvolgvraag in my kop was wel of
dit dan die rede vir haar onvriendelikheid is). Haar antwoord het my ontkant
betrap, en ’n wonderlike gesprek het gevolg.
Sy het geantwoord dat sy goor voel en baie moeg is – sy is drie maande
swanger met haar eersteling. My hart het vir haar oopgegaan en ek kon vir haar
sĂȘ dat ek presies weet hoe sy voel, omdat ek byna vier maande swanger is met my
eersteling. Ons het ’n kort gesprek oor swangerskap gevoer en sy het my vertel
dat sy ’n baie lang tyd vir hierdie baba gewag het. Toe ek haar groet en die winkel verlaat het sy geglimlag, en ek hoop
met my hele hart ons gesprek haar moed gegee het vir die res van haar dag.
Dit het my laat besef dat sy nie noodwendig onvriendelik was nie,
maar dat sy ’n doodse moegheid ervaar het waarmee ek kan vereenselwig. Ek het
besef dat ons dikwels meer in gemeen het met die persoon van wie ons dit die
minste verwag, as wat ons ooit sou kon dink. Ek het besef wat ’n vriendelike
woord aan vreemdeling vir hulle kan beteken. Ek het besef dat ons nooit sal
weet wat werklik in ander se lewens aangaan as ons nie na hulle uitreik nie. En
meer nog, ek het besef dat die persoon wat soms slegs lyk in die mall, dalk ’n goeie
rede het.
Dankie aan die Clicks-kassier en ’n baie goeie vriend wat my aan ou waarhede
herinner het.