Monday, 6 January 2014

Ontdekking van die lewe

Dis nie net ’n nuwe week nie, maar ook die begin van ’n nuwe werksjaar. Dit voel so anders as verlede jaar hierdie tyd – toe was dit voorbereidings tref vir Willem se koms; angs, onsekerheid en opgewondenheid.

Hier staan ek nou ’n jaar later en ek is opgewonde om elke ding opnuut deur ’n kind van byna ’n jaar oud se oë te beleef, opgewonde om te sien hoe hy net wil begin loop en paniekerig elke keer as dit lyk of hy dalk sy balans verloor. Dis oulik om te sien hoe hy op die vensterbank klim en aan die diefwering vashou, maar so angswekkend dat hy dalk agteroor kan val. Wat ’n vreugde om hom te hoor lag van lekkerkry as ons in die swembad speel, maar dan kom die hartstilstandoomblikke as hy uit jou arms bars en self wil swem.

Daar so fyn balans tussen om hom toe te laat om op sy eie te ontdek, en hom veilig te hou. Ek vra vir wysheid om nie my kind in te perk nie, om hom te los om die lewe stukkie vir stukkie self te ontdek, om uit te vind wat hy kan doen, hoe en waar. Ek vra egter ook vir wysheid om te weet wanneer om in te gryp, te keer en dinge van hom weg te hou.

Verlede jaar hierdie tyd het ek geweet my lewe gaan onherroeplik verander, maar nooit sou ek kon raai dat ’n mens jou hart buite jou sal kan sien nie. Soos die lewe maar werk, gun jy jou hart al die vreugdes, maar sal jy ook alles in jou vermoë doen om dit te beskerm.

Ek is baie opgewonde oor die jaar wat voorlê, oor al die nuwe ervarings wat ons as gesin saam gaan beleef.

Monday, 18 February 2013

Baie opgewonde, en bietjie bevrees


Vir ʼn paar maande wag jy vir die tweede strepie. Skielik op ʼn dag is dit daar en jy kan die opgewondenheid nie keer nie. Daarna gaan jy dokter toe en die rede vir jou opgewondenheid word bevestig.

Elke dag groei die opwinding. Die oulike speelgoed en klere en die navorsing oor stootwaentjies en karstoeltjies dra alles tot jou opgewondenheid by. Die dag wat die dokter vir jou sê dis ʼn seuntjie is daar weer nuwe opwinding wanneer jy oor name begin wonder en praat – en daar roer opnuut iets in jou. Niemand kan jou egter voorberei op die dag wat daar letterlik iets in jou roer nie. Dan is daar ook ʼn nuutgevonde en ongekende opgewondenheid wanneer jy na die skerm van die 4D-skandering kyk en ʼn idee begin vorm van jou kind gaan lyk.

Soos die tyd aanstap en jou voorbereiding vorder, neem die opgewondenheid toe. Stadig bekruip iets anders jou egter ook. Vrees. Jy is bang dat jy nie al die nodige verbruikersgoedere en katoeters het wat jy nodig het om ʼn kind groot te kry nie. Jy vrees die bevalling self en die borsvoeding. Jy wonder of jy gaan regkom om daardie klein lyfie te hanteer, te voed, te bad, aan te trek, en die lysie hou net aan.

Die grootste vrees van alles is egter of jy hom sal kan grootmaak om sy plek in die samelewing met die regte waardes en integriteit vol te staan. Jy wonder of jy ʼn goeie ma sal wees en hom alles sal kan leer wat hy moet weet.

Maar dan skop die opgewondenheid weer in, en jy weet, soos ʼn vriendin sê, dat die Vader reeds jou “sagteware” bygewerk het nog voor jy swanger geraak het. Jy weet dat jy reeds al die instinkte en ondersteuningsnetwerke het, en jy weet dat jy ook hierdie uitdaging sal baasraak, want jy is nie alleen nie.

Elke dag is daar steeds ʼn bietjie vrees, maar niks wat jou opwinding kan oorskadu nie. Nou moet jy net geduldig wag vir die laaste vier weke om verby te gaan terwyl jou opwinding die hele tyd toeneem. 

Friday, 7 December 2012

Vanselfsprekend? Of nie?


Ek besef oor en oor hoeveel dinge ek as vanselfsprekend aanvaar. As ek na myself en die mense om my kyk, sien ek soveel dinge wat ek bloot as ’n gegewe aanvaar. Ek deel graag ’n paar sulke dinge en wat ek nou daaruit leer. My wens is om met nuwe oë na hierdie, en soveel ander, dinge te kyk en te besef dat dit nie vanselfsprekend is nie.

* * *
Al was my ouma oud en het ek geweet dat sy nie vir ewig op aarde sal wees nie, het ek altyd gedink ons sal haar nog ’n rukkie langer by ons hê. Ek is spyt dat ek nie alles wat ek so graag met haar wou deel, vir haar vertel het nie. Daar is dinge in my lewe waaroor sy so verheug sou wees, maar ek het dit nooit vir haar gesê nie. Ek het geleer om nie die dag van more as vanselfsprekend te aanvaar nie. Elke dag is ’n genadegeskenk wat ek moet gebruik om my geliefdes te koester en my hart met hulle te deel.

* * *
’n Baie goeie vriend het vroeër vanjaar lewe – sy lewe! – gevier. Tien jaar nadat hy met kanker gediagnoseer is het hy op ’n reis gegaan om sy lewe en gesondheid te vier. Ek was saam met hom so dankbaar vir die gesonde jare agter die rug en die wonderlike toekoms wat wink. Hierdie week het ek egter verneem dat hy na al die jare weer kanker het en waarskynlik voor Kersfees die eerste chemoterapie sal kry. Ek het geleer om nie my gesondheid vanselfsprekend te aanvaar nie, omdat dit in ’n oogwink weggeneem kan word.

* * *
’n Vriendin en haar man gaan deur ’n baie moeilike tyd in hul huwelik en ek begin al meer wonder of die oorsaak nie juis is dat hulle mekaar na meer as 10 jaar as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek wonder of hulle nie net begin aanvaar het dat dit altyd sal wees soos dit 10 jaar gelede was nie. Ek het geleer dat ek elke dag my geliefde moet waardeer en elke dag dankbaar moet wees vir wat hy vir my doen. Ek het geleer dat ’n verhouding iets is wat nie net vanself gebeur nie, maar waaraan ek elke dag doelgerig moet werk.

Thursday, 20 September 2012

"Die persoon wat soms sleg lyk in die mall, het dalk ’n goeie rede"


’n Goeie vriend het ’n tyd gelede ’n pragtige skrywe gedeel oor hoe dankbaar hy is as hy oor die afgelope tien jaar van sy lewe terugkyk en die dinge wat kanker hom geleer het.  Een van die dinge wat hy geskryf het, en wat my van gister af by my bly spook, is "dat die persoon wat soms sleg lyk in die mall, dalk 'n goeie rede het".

Gistermiddag is ek onmiddellik vies vir die onvriendelike kassier in Clicks en ek wil haar summier vra waarom sy so onvriendelik is. Iets keer my en ek vra eerder of sy ’n moeilike dag gehad het (die opvolgvraag in my kop was wel of dit dan die rede vir haar onvriendelikheid is). Haar antwoord het my ontkant betrap, en ’n wonderlike gesprek het gevolg.

Sy het geantwoord dat sy goor voel en baie moeg is – sy is drie maande swanger met haar eersteling. My hart het vir haar oopgegaan en ek kon vir haar sê dat ek presies weet hoe sy voel, omdat ek byna vier maande swanger is met my eersteling. Ons het ’n kort gesprek oor swangerskap gevoer en sy het my vertel dat sy ’n baie lang tyd vir hierdie baba gewag het. Toe ek haar groet en die winkel verlaat het sy geglimlag, en ek hoop met my hele hart ons gesprek haar moed gegee het vir die res van haar dag.

Dit het my laat besef dat sy nie noodwendig onvriendelik was nie, maar dat sy ’n doodse moegheid ervaar het waarmee ek kan vereenselwig. Ek het besef dat ons dikwels meer in gemeen het met die persoon van wie ons dit die minste verwag, as wat ons ooit sou kon dink. Ek het besef wat ’n vriendelike woord aan vreemdeling vir hulle kan beteken. Ek het besef dat ons nooit sal weet wat werklik in ander se lewens aangaan as ons nie na hulle uitreik nie. En meer nog, ek het besef dat die persoon wat soms slegs lyk in die mall, dalk ’n goeie rede het.

Dankie aan die Clicks-kassier en ’n baie goeie vriend wat my aan ou waarhede herinner het.

Wednesday, 8 August 2012

Sneeu in 'n sonskynland


Om te begin weet ek nie of ’n mens dit regtig sneeu kan noem nie. Dit was maar enkele vlokkies wat die oomblik wat dit die grond tref, reeds gesmelt het.

Suid-Afrikaners is gewoond aan sonskyn wat met see en sand en braai gepaard gaan. Baie mense het nog nooit sneeu of kapok gesien nie, en ek dink dit is wat gister se ervaring so magies gemaak het. Mense het uit hul werkplekke en huise gestroom om iets van hierdie wit vlokkies te ervaar en foto's te neem – die bittere koue (en hopelik ’n paar ander bekommernisse) vir ’n oomblik vergete.

My sneeu-oomblik van gister was toe ek by ’n rooi verkeerslig stop en die vlokkies weer begin neersif – byna soos wanneer jou bure polistireen sny en die fyn wit balletjies waai by jou venster verby. Die glimlag en gesigsuitdrukking van die seuntjie in die kar langs myne, som vir my die sneeu-ervaring op: verwondering en in vervoering. Die beeld van die kind se gesig is in my geheue geprent en waarskynlik die eerste ding waaraan ek nog vir ’n lang tyd sal dink, wanneer ek aan 7 Augustus se enkele sneeuvlokkies dink.

Ek hoop dat elkeen wat dit gister beleef het vir ’n oomblik van werk en spanning en geld kon vergeet en soos ’n kind in verwondering en vervoering oor die sneeu kon staan.

Wednesday, 18 July 2012

Mandela-dag



Mandela-dag word blykbaar wêreldwyd gevier en mense word aangespoor om 67 minute van hul tyd aan liefdadigheid te spandeer. Dis seker 'n goeie inisiatief en dis wonderlik as mense hul tyd vir ander gee.

Ek het egter 'n probleem met hierdie spesifieke inisiatief – maar ek wil dit duidelik stel dat ek nie 'n probleem met Mnr Mandela het nie. In teendeel, ek dink hy het wonderlike werk gedoen en ek twyfel of iemand anders in sy situasie dieselfde  vir nasiebou in 'n tyd van politieke onsekerheid in Suid-Afrika sou kon doen.

Dit voel vir my of mense aan hierdie inisiatief deelneem as 'n heldeverering vir 'n mens, en dit kan tog nie die rede vir goeie dade wees nie. Ek glo sulke dade moet uit die hart moet kom, uit liefde vir die medemens. Ek gee van my tyd en is betrokke by liefdadigheidswerk, en ek doen dit omdat ek graag wil. Ek weet baie mense sal argumenteer dat niemand sal betrokke raak as hulle nie in elk geval wou nie, my teenvraag is dan: as jy dan so graag iets vir ander wil doen, waarom net een maal per jaar vir 67 minute?

Betrokkenheid by die wêreld se nood kan wel 'n verskil in mense se lewens maak, maar kom ons doen dit dan meer gereeld. Kom ons doen dit weekliks of maandeliks vir 'n uur of twee en bou verhoudings met die mense en wag nie vir 'n spesiale geleentheid of iemand se verjaardag om dit te doen nie.

* * *
Ek wil Mnr Mandela  ook geluk wens met sy 94ste verjaardag. Dit is voorwaar 'n mylpaal en hy kan met trots terugkyk na 'n vol lewe waarin hy baie bereik het.

Monday, 9 July 2012

Liewe Ouma


Na 86 jaar en 51 weke moes ons jou groet. Alhoewel my hart seer is om jou te laat gaan, weet ek dat jy nou veilig en sonder pyn is – en my herinneringkissie is vol kosbaarhede wat altyd tot troos sal wees.

Ek onthou hoe jy en oupa my keer op keer saam op vakansie geneem het en bederf het soos net ʼn ouma en oupa kan. Ek onthou hoe jy saam met my op die strand en in rotspoele gespeel het. Ek onthou die kuiers op die plaas – byna elke naweek en vakansie – warm melk en Bybelverhale voor slaaptyd. Ek onthou hoe jy Zoo-koekies gebruik het om my van diere te leer. Ek onthou hoe ouma speletjies met ons gespeel het en geraas het as dit nodig was. Ek glo dat ek my liefde vir kook – veral vir eksperimentering in die kombuis – by ouma geërf het.

Maar die belangrikste wat ouma my geleer het, is liefde.  Ouma se verhouding met die Vader was altyd ʼn voorbeeld van iemand wat na aan Hom wandel. Ouma se verhouding met ander was altyd 'n voorbeeld van hoe om in liefde met ander om te gaan. En ouma se verhouding met oupa bly vir my ʼn voorbeeld van ʼn huwelik wat in God gevestig was. Ouma het geglo het ʼn mens nooit kwaad vir iemand mag gaan slaap nie – en dit is ʼn les wat ek altyd met my sal saamneem.

Dankie vir al ouma se liefde en omgee. Oral waar ouma gegaan het, het jy mense se lewens aangeraak: kinders, kleinkinders en agterkleinkinders, familie, vriende, bure, en selfs deur briewe aan sendelinge in verre lande.

Ek sal die kosbare herinneringe altyd in my hart dra.

Liefde
Annelie

Thursday, 29 March 2012

Praag


Tydens 'n lang treinrit vanaf Boedapest, deur Slowakye tot in die Tsjeggiese Republiek was dit opvallend hoe die landskap verander het – en beslis ten goede. Dit is lente in Europa en Praag is vir my baie groener as die ander stede waar ons was. Dis pragtig!

Praag is 'n historiese stad met 'n magiese bekoring. Ons het baie tyd in die ou stadsplein deurgebring en dis hier waar die astronomiese klok uur na uur honderde mense lok om te kyk wanneer hy die uur slaan. Dis ook hier waar ons die Praagse paasmark met sy wonderlike geure en smake aangetref het. Ons het die ou stadsplein as middelpunt gebruik, maar ook die ou deel van die stad wyd om die plein verken, want om elke draaitjie is daar net nog iets om oor in verwondering te staan.

In die kasteeldistrik was duisende toeriste en ek verstaan waarom almal daarheen wil gaan; rondom die kasteel is 'n reusagtige gotiese kerk en baie ander ou geboue en van daar af is 'n ongelooflike uitsig oor die stad. Ons het ook in die Lesser Town rondgeloop; dit is baie minder gewild as van die ander dele (en genadiglik is daar gevolglik baie minder toeriste as in die ander dele), maar ewe indrukwekkend. Vir lang rukke het ons sommer op die bankies langs die rivier gesit en vir die bote en mense en die Charlesbrug gekyk.


Foto vanaf die kasteelarea met Praag in die agtergrond.

Die ou Joodse deel van die stad het ook baie besienswaardighede, waarvan die wat my die meeste getref het seker die uitstalling van kinderkuns was. Dit is prente wat Joodse kinders tydens die Holocaust in konsentrasiekampe gemaak het. In een van die sinagoges is die name van 77 000 Tsjeggiese Jode wat tydens die Holocaust vermoor is, teen die mure van die sinagoge geverf. Dis so 'n groot onreg wat hulle aangedoen is en 'n baie hartseer, maar konkrete, manier om ons daaraan te herinner. Dit laat my ook dink aan al die ander onregte teen Jode deur die eeue heen. In Praag was daar byvoorbeeld ook 'n spesifieke ommuurde deel waar die Jode moes bly en hulle mag nie buite hierdie area begrawe geword het nie. Gevolglik is daar 'n ou Joodse begraafplaas met 12 000 grafstene en baie meer liggame wat 12 tot 15 bo-op mekaar begrawe is.

Die Tsjeggiese Republiek is baie bekend as 'n bierdrinkende nasie – veral Pilsner Urquel. Ek is glad nie 'n bierdrinker nie, maar as jy in Rome is... of te wel dan in Praag is, dan drink jy bier. Ek was egter ook baie verbaas oor die feit dat hot wine (of gluhwein soos ons dit eerder ken) oral bedien word, en dit was dan meesal my keuse vir 'n drankie.

***
Nou is die vakansie egter verby en my voete voel of dit nooit weer sal kan loop nie, maar dit was beslis die baie kilometers wat ons agter baie mooi goed aangeloop het, werd. Elke tree!

Ons het baie wonderlike dinge gesien en ervaar en baie foto's geneem. Praag was my gunstelingstad van die vakansie, en om The Kiss te sien was my gunstelingervaring van die vakansie. Ek is baie dankbaar vir die groot voorreg om so 'n vakansie te kon hê en meer nog, dat ek dit saam met die liefde van my lewe kon doen.

Boedapest


Sowat drie ure met die trein vanaf Wene lê Boedapest. Hierdie stad en Hongarye as geheel het 'n ryk geskiedenis wat meer as 'n millennium strek. Hoe nader ons egter aan Boedapest gekom het, hoe vuiler het dit geword en toe ons by die stasie uitkom, het ek my hart vasgehou. Kan dit wees? Die plek lyk dan vir my soos die gopse! En om alles te kroon het ons erg verdwaal na ons die busstop waar ons moes afklim, gemis het. Oral is ou geboue soos in Wene, maar alles is verwaarloos en vuil en skielik kan ek nie onthou waarom ons besluit het om Boedapest te besoek nie.

In die toeriste-areas lyk dit darem stukke beter en ons kom op 'n plein met 'n feestelike atmosfeer af. Dis Vörösmarty tere waar 'n lentefees aan die gang is, ons loop deur al die stalletjies en eet elkeen 'n bord warm bredie. Die Hongaarse kos is tradisioneel heerlike homey, hearty bredies met baie paprika en skielik voel ons ook sommer beter oor die stad waarin ons, ons bevind.

Die kasteelarea van die stad is vol pragtige ou geboue, alhoewel die geboue almal honderde jare ouer lyk as wat dit eintlik is – dit is die gevolg van oorloë wat die stad erg beskadig is en baie geboue is dan net weer in hul oorspronklike styl oorgebou. Hier is dus baie geboue wat lyk asof dit uit die 15de eeu dateer, maar inderwaarheid in die 20ste eeu gebou.


 Ek en Rudolph voor die kasteel in Boedapest.

Ek hou vreeslik baie van die Fishermen's Bastion. Dit het egter nooit as 'n skansmuur gedien nie, maar eerder as 'n uitkykpunt. Die muur is in 1895 gebou en sy torings is so ontwerp om aan die Magyars (die eerste inwoners van Hongarye) se tente te herinner. Van hier af is 'n pragtige uitsig oor die stad en die parlementsgeboue wat seker Boedapest se bekendste landmerk is.


 Fishermen's Bastion

Die millenniummonument is 'n baie indrukwekkende monument wat in 1896 gebou is om die eerste duisend jaar van die land se geskiedenis te herdenk – dis nou sedert Prins Arpad hom in 896 daar gevestig het. Daar is beelde wat die verskeie heersers van die land uitbeeld.

As deel van die millenniumvieringe in 1896, is die Vajdahyad-kasteel 'n tydelike struktuur opgerig, maar dit was so gewild dat dit later met 'n permanente struktuur vervang is. Dit is 'n aantal kerke en geboue wat verskillende eras uit die land se argitektoniese geskiedenis voorstel. Ek was mal oor die hele kompleks en die sprokiesagtigheid daarvan.

Alhoewel ek wonderlike dinge in Boedapest gesien en ervaar het en dit baie geniet het, dink ek nie ek sal sommer weer teruggaan soontoe nie.

Wednesday, 28 March 2012

Wene


Ons het via Schipollughawe in Amsterdam na Wene gevlieg en dit baie maklik reggekry om met 'n bus tot by Westbahnhofstasie te kom en vandaar met trem 52 tot basies reg voor die hotel. Na ons die kaarte en gidse oor die stad bestudeer het, het ons besluit om die aand in Stephansplatz te spandeer. Dis hier waar my eerste indruk van Wene gekry het.

Die eerste gesig wat jou begroet as jy uit die stasie op die plein kom, is 'n majestueuse gotiese katedraal – Stephansdom. Hierdie gebou dateer uit die jaar 1147, maar is deur verskeie oorloë deur die eeue beskadig en telkens weer herstel.

Hierdie plein en katedraal het dan ook ons verwysingspunt in Wene geword, alhoewel ons eers twee dae later die binnekant van die katedraal besigtig het. Stephansdom sal waarskynlik altyd die eerste ding wees waaraan ek dink as ek aan Wene dink.

Die ander bekoring wat die stad vir my ingehou het, het ek ook die eerste aand beleef. Die romantiese gevoel van die stad wat jou aan 'n ou film herinner wanneer jy in die straatjies en deurgange loop. Ons het tradisionele Weense schnitzel in 'n restourant se kelder geëet wat diep onder die grond is – asof dit die kelder se kelder was.

Figlmuller – die restourant met heerlike Weense schnitzel. 

Rudolph in die kelder waar ons tafel in Figlmuller was.


Ons het die hele Schonbrunn-paleiskompleks plat gestap, deur sy reusetuine met beelde en fonteine om elke hoek en draai, tot by die Neptunefontein en die Gloriette heel bo op die koppie vanwaar jy 'n pragtige uitsig oor die stad het. Tydens 'n toer van die paleis het ons baie oor die geskiedenis van die stad en die Hapsburgs, wat 'n belangrike koninklike familie in die Europese geskiedenis was, geleer.

'n Gedeelte van Schloss Schonbrunn gesien tussen die winterbome deur.

Ek weet nou dis waar wat Mark Twain gesê het: The best coffee in Europe is Vienna coffee – compared to which all other coffee is fluid poverty, want by die Naschmark het ek die lekkerste koffie nog ooit gedrink.

My hoogtepunt van Wene (en moontlik die hele vakansie) was die oomblik toe ek my oë op 'n oorspronklike werk van Gustav Klimt in Oberes Belvedere ('n paleis wat nou 'n kunsgalery is) gelê het. Sy werk, The Kiss, is een van my gunsteling skilderye ooit, en om dit in lewende lywe te sien, was 'n voorreg wat my hart sommer warm laat klop het.

'n Poskaart van my gunsteling skildery - Gustav Klimt se The Kiss.

Ons het baie tyd in die stad spandeer om sommer net rond te loop en op trappe of bankies te sit en alles rondom ons in te neem. Wene het my aangenaam verras en ek sal enige dag weer die stad besoek.