Ons het via Schipollughawe
in Amsterdam na Wene gevlieg en dit baie maklik reggekry om met 'n bus tot by
Westbahnhofstasie te kom en vandaar met trem 52 tot basies reg voor die hotel.
Na ons die kaarte en gidse oor die stad bestudeer het, het ons besluit om die
aand in Stephansplatz te spandeer. Dis hier waar my eerste indruk van Wene
gekry het.
Die eerste gesig wat jou
begroet as jy uit die stasie op die plein kom, is 'n majestueuse gotiese katedraal
– Stephansdom. Hierdie gebou dateer uit die jaar 1147, maar is deur verskeie
oorloë deur die eeue beskadig en telkens weer herstel.
Hierdie plein en katedraal het
dan ook ons verwysingspunt in Wene geword, alhoewel ons eers twee dae later die
binnekant van die katedraal besigtig het. Stephansdom sal waarskynlik altyd die
eerste ding wees waaraan ek dink as ek aan Wene dink.
Die ander bekoring wat die
stad vir my ingehou het, het ek ook die eerste aand beleef. Die romantiese
gevoel van die stad wat jou aan 'n ou film herinner wanneer jy in die straatjies
en deurgange loop. Ons het tradisionele Weense schnitzel in 'n restourant se
kelder geëet wat diep onder die grond is – asof dit die kelder se kelder was.
Figlmuller – die restourant met heerlike Weense schnitzel.
Rudolph in die kelder waar ons tafel in Figlmuller was.
Ons het die hele
Schonbrunn-paleiskompleks plat gestap, deur sy reusetuine met beelde
en fonteine om elke hoek en draai, tot by die Neptunefontein en die Gloriette heel bo
op die koppie vanwaar jy 'n pragtige uitsig oor die stad het. Tydens 'n toer
van die paleis het ons baie oor die geskiedenis van die stad en die Hapsburgs,
wat 'n belangrike koninklike familie in die Europese geskiedenis was, geleer.
'n Gedeelte van Schloss Schonbrunn gesien tussen die winterbome deur.
Ek weet nou dis waar wat
Mark Twain gesê het: The best coffee in
Europe is Vienna coffee – compared to which all other coffee is fluid poverty,
want by die Naschmark het ek die lekkerste koffie nog ooit gedrink.
My hoogtepunt van
Wene (en moontlik die hele vakansie) was die oomblik toe ek my oë op 'n
oorspronklike werk van Gustav Klimt in Oberes Belvedere ('n paleis wat nou 'n
kunsgalery is) gelê het. Sy werk, The
Kiss, is een van my gunsteling skilderye ooit, en om dit in lewende lywe te
sien, was 'n voorreg wat my hart sommer warm laat klop het.
'n Poskaart van my gunsteling skildery - Gustav Klimt se The Kiss.
Ons het baie tyd in die stad
spandeer om sommer net rond te loop en op trappe of bankies te sit en alles
rondom ons in te neem. Wene het my aangenaam verras en ek sal enige dag weer
die stad besoek.
No comments:
Post a Comment