Thursday, 20 September 2012

"Die persoon wat soms sleg lyk in die mall, het dalk ’n goeie rede"


’n Goeie vriend het ’n tyd gelede ’n pragtige skrywe gedeel oor hoe dankbaar hy is as hy oor die afgelope tien jaar van sy lewe terugkyk en die dinge wat kanker hom geleer het.  Een van die dinge wat hy geskryf het, en wat my van gister af by my bly spook, is "dat die persoon wat soms sleg lyk in die mall, dalk 'n goeie rede het".

Gistermiddag is ek onmiddellik vies vir die onvriendelike kassier in Clicks en ek wil haar summier vra waarom sy so onvriendelik is. Iets keer my en ek vra eerder of sy ’n moeilike dag gehad het (die opvolgvraag in my kop was wel of dit dan die rede vir haar onvriendelikheid is). Haar antwoord het my ontkant betrap, en ’n wonderlike gesprek het gevolg.

Sy het geantwoord dat sy goor voel en baie moeg is – sy is drie maande swanger met haar eersteling. My hart het vir haar oopgegaan en ek kon vir haar sê dat ek presies weet hoe sy voel, omdat ek byna vier maande swanger is met my eersteling. Ons het ’n kort gesprek oor swangerskap gevoer en sy het my vertel dat sy ’n baie lang tyd vir hierdie baba gewag het. Toe ek haar groet en die winkel verlaat het sy geglimlag, en ek hoop met my hele hart ons gesprek haar moed gegee het vir die res van haar dag.

Dit het my laat besef dat sy nie noodwendig onvriendelik was nie, maar dat sy ’n doodse moegheid ervaar het waarmee ek kan vereenselwig. Ek het besef dat ons dikwels meer in gemeen het met die persoon van wie ons dit die minste verwag, as wat ons ooit sou kon dink. Ek het besef wat ’n vriendelike woord aan vreemdeling vir hulle kan beteken. Ek het besef dat ons nooit sal weet wat werklik in ander se lewens aangaan as ons nie na hulle uitreik nie. En meer nog, ek het besef dat die persoon wat soms slegs lyk in die mall, dalk ’n goeie rede het.

Dankie aan die Clicks-kassier en ’n baie goeie vriend wat my aan ou waarhede herinner het.

5 comments:

  1. Wat 'n mooi les. Dankie dat jy dit gedeel het.

    ReplyDelete
  2. Heerlik gelees, dankie vir die positiewe boodskap!

    ReplyDelete
  3. Hoi Annelie,

    Zo zie je maar...
    Knap dat je haar hebt aangesproken op die manier.
    Het is altijd makkelijk om je oordeel klaar te hebben en de ander dan maar als "onvriendelijk" af te stempelen; je af te vragen hoe het zo komt en een gesprek openen... Super!
    Dat zouden meer mensen moeten doen.

    Bedankt voor je verhelderende bijdrage!

    Groetjes,


    Gabi

    ReplyDelete
  4. Dis so ongelooflik waar - en ons kyk dit te dikwels oor die hoof...
    Baie keer hoor ons: loop 'n tree in sy skoene, maar dis eerder 'n situasie van klim in sy lyf, met sy verlede en sy drome. Alleen dan kan ons werklik mekaar verstaan.

    ReplyDelete
  5. Love die waarheid... mens dink nooit so daaroor nie, want soms is dit "net gou uitspring en brood en melk gryp"..
    Jou blog is baie mooi!

    Geniet die avonture, was nog self nooit oorsee sal graag wil gaan maar my werk laat dit nou nie juis toe nie.

    Ek skryf ook graag maar sommer dit en dat, hou eintlik meer van stories en herinneringe en soms goed wat krap en pla.

    Lekker dag.

    JOu blog laat mens nie toe om juis te follow nie.

    ReplyDelete