Tydens
'n lang treinrit vanaf Boedapest, deur Slowakye tot in die Tsjeggiese Republiek
was dit opvallend hoe die landskap verander het – en beslis ten goede. Dit is
lente in Europa en Praag is vir my baie groener as die ander stede waar ons
was. Dis pragtig!
Praag is
'n historiese stad met 'n magiese bekoring. Ons het baie tyd in die ou
stadsplein deurgebring en dis hier waar die astronomiese klok uur na uur
honderde mense lok om te kyk wanneer hy die uur slaan. Dis ook hier waar ons
die Praagse paasmark met sy wonderlike geure en smake aangetref het. Ons het
die ou stadsplein as middelpunt gebruik, maar ook die ou deel van die stad wyd
om die plein verken, want om elke draaitjie is daar net nog iets om oor in
verwondering te staan.
In die
kasteeldistrik was duisende toeriste en ek verstaan waarom almal daarheen wil
gaan; rondom die kasteel is 'n reusagtige gotiese kerk en baie ander ou geboue
en van daar af is 'n ongelooflike uitsig oor die stad. Ons het ook in die Lesser Town rondgeloop; dit is baie
minder gewild as van die ander dele (en genadiglik is daar gevolglik baie
minder toeriste as in die ander dele), maar ewe indrukwekkend. Vir lang rukke
het ons sommer op die bankies langs die rivier gesit en vir die bote en mense
en die Charlesbrug gekyk.
Die ou Joodse
deel van die stad het ook baie besienswaardighede, waarvan die wat my die
meeste getref het seker die uitstalling van kinderkuns was. Dit is prente wat
Joodse kinders tydens die Holocaust in konsentrasiekampe gemaak het. In een van
die sinagoges is die name van 77 000 Tsjeggiese Jode wat tydens die
Holocaust vermoor is, teen die mure van die sinagoge geverf. Dis so 'n groot
onreg wat hulle aangedoen is en 'n baie hartseer, maar konkrete, manier om ons
daaraan te herinner. Dit laat my ook dink aan al die ander onregte teen Jode
deur die eeue heen. In Praag was daar byvoorbeeld ook 'n spesifieke ommuurde
deel waar die Jode moes bly en hulle mag nie buite hierdie area begrawe geword
het nie. Gevolglik is daar 'n ou Joodse begraafplaas met 12 000 grafstene
en baie meer liggame wat 12 tot 15 bo-op mekaar begrawe is.
Die
Tsjeggiese Republiek is baie bekend as 'n bierdrinkende nasie – veral Pilsner
Urquel. Ek is glad nie 'n bierdrinker nie, maar as jy in Rome is... of te wel
dan in Praag is, dan drink jy bier. Ek was egter ook baie verbaas oor die feit
dat hot wine (of gluhwein soos ons dit eerder ken) oral bedien word, en dit was dan
meesal my keuse vir 'n drankie.
***
Nou is
die vakansie egter verby en my voete voel of dit nooit weer sal kan loop nie, maar
dit was beslis die baie kilometers wat ons agter baie mooi goed aangeloop het,
werd. Elke tree!
Ons het
baie wonderlike dinge gesien en ervaar en baie foto's geneem. Praag was my
gunstelingstad van die vakansie, en om The
Kiss te sien was my gunstelingervaring van die vakansie. Ek is baie
dankbaar vir die groot voorreg om so 'n vakansie te kon hê en meer nog, dat ek
dit saam met die liefde van my lewe kon doen.
Hallo,
ReplyDeleteIK vind zo tof dat jij Afrikaans schrijft. Ik ben er zelf maar één keer geweest. Als ik mijn huisgenote zou kunnen overtuigen, stapte ik direct terug in het vliegtuig. Ik ben er mijn hart verloren. Mocht je nog eens het Europese continent verkennen, Antwerpen, Brugge en Gent zijn ook zeker de moeite. het was fijn jujjie belevenissen te lezen.