Sowat drie ure met die trein
vanaf Wene lê Boedapest. Hierdie stad en Hongarye as geheel het 'n ryk
geskiedenis wat meer as 'n millennium strek. Hoe nader ons egter aan Boedapest
gekom het, hoe vuiler het dit geword en toe ons by die stasie uitkom, het ek my
hart vasgehou. Kan dit wees? Die plek lyk dan vir my soos die gopse! En om
alles te kroon het ons erg verdwaal na ons die busstop waar ons moes afklim,
gemis het. Oral is ou geboue soos in Wene, maar alles is verwaarloos en vuil en
skielik kan ek nie onthou waarom ons besluit het om Boedapest te besoek nie.
In die toeriste-areas lyk
dit darem stukke beter en ons kom op 'n plein met 'n feestelike atmosfeer af.
Dis Vörösmarty tere waar 'n lentefees aan die gang
is, ons loop deur al die
stalletjies en eet elkeen 'n bord warm bredie. Die Hongaarse kos is
tradisioneel heerlike homey, hearty bredies met baie paprika en
skielik voel ons ook sommer beter oor die stad waarin ons, ons bevind.
Die kasteelarea van die stad
is vol pragtige ou geboue, alhoewel die geboue almal honderde jare ouer lyk as
wat dit eintlik is – dit is die gevolg van oorloë wat die stad erg beskadig is
en baie geboue is dan net weer in hul oorspronklike styl oorgebou. Hier is dus
baie geboue wat lyk asof dit uit die 15de eeu dateer, maar inderwaarheid in die
20ste eeu gebou.
Ek hou vreeslik baie van die
Fishermen's Bastion. Dit het egter nooit as 'n skansmuur gedien nie, maar
eerder as 'n uitkykpunt. Die muur is in 1895 gebou en sy torings is so ontwerp
om aan die Magyars (die eerste inwoners van Hongarye) se tente te herinner. Van
hier af is 'n pragtige uitsig oor die stad en die parlementsgeboue wat seker
Boedapest se bekendste landmerk is.
Die millenniummonument is 'n
baie indrukwekkende monument wat in 1896 gebou is om die eerste duisend jaar
van die land se geskiedenis te herdenk – dis nou sedert Prins Arpad hom in 896
daar gevestig het. Daar is beelde wat die verskeie heersers van die land
uitbeeld.
As deel van die
millenniumvieringe in 1896, is die Vajdahyad-kasteel 'n tydelike struktuur
opgerig, maar dit was so gewild dat dit later met 'n permanente struktuur
vervang is. Dit is 'n aantal kerke en geboue wat verskillende eras uit die land
se argitektoniese geskiedenis voorstel. Ek was mal oor die hele kompleks en die
sprokiesagtigheid daarvan.
Alhoewel ek wonderlike dinge
in Boedapest gesien en ervaar het en dit baie geniet het, dink ek nie ek sal
sommer weer teruggaan soontoe nie.
No comments:
Post a Comment