Tuesday, 18 November 2008

Wat definieer my?

Verlede week stel ek myself skertsend aan iemand voor met die woorde: Ek is Annelie en ek is ‘n staatsdiensamptenaar. ‘n Vriendin vererg haar toe sommer vir my, want, sê sy, dis nie wat my definieer nie.

So begin ek wonder wat is dit wat ‘n mens definieer? Wat is dit wat my definieer?

Maar voor ek daarby uitkom, wil die linguis in my eers ‘n definisie gaan soek… Ek kry ‘n paar verklarings vir define, maar die een wat hier vir my van toepassing is, is
state or describe the exact nature or scope of.

Dus, vra ek myself what describes the exact nature or scope of me? (Beslis nie staatsdiensamptenaar nie! Dit is bloot iets wat ek doen om my rekeninge te betaal.)

Onwillekeurig dink ek: ‘n Mens word geken aan jou vriende geken. Dus kan ‘n mens seker ook sê jy word geken aan dit wat jou na aan die hart lê en die dinge waaraan jy jou tyd spandeer.

Ek spandeer my tyd saam met mense. Mense wat vir my kosbaar is. Mense vir wie ek lief is en wat vir my lief is. Mense wat ek my vriende en familie noem. Mense met wie ek tot laataand toe kan gesels oor alles – of oor niks. Mense met wie ek my vreugdes en hartseer kan deel. Mense saam met wie ek goeie rooiwyn kan geniet.

Ek spandeer my tyd om kreatiewe dinge te doen wat my sintuie stimuleer. Ek hou daarvan om ‘n canvass in te kleur met dik lae olieverf en ek hou van die reuk waarmee dit my huis vul. Ek hou daarvan om krale in te ryg, die vrede waarmee die kleurkombinasies my vul en die tekstuur van verskillende tipes op my vingerpunte.

Ek spandeer my tyd in die geselskap die geskrewe woord. Ek hou daarvan om woorde te lees: fiksie, geskiedenis en biografieë – dit laat my vir ‘n oomblik uit my eie wêreld ontsnap. Ek hou daarvan om woorde te redigeer en te laat sin maak. Maar om woorde te skryf, maak my gelukkig – om ‘n stukkie van myself, my lewe, my gedagtes en my opinies (en verbeeldingswêreld) te deel. (Terloops, woorde is ook wat my salaris betaal.)

Dan is daar ook Die Woord waarmee ek my tyd spandeer en probeer agterkom wat dit is wat ek moet doen en waar ek moet wees in die lewe. Dis ook hier waar ek my troos en my hoop vind.

Ek dink mens word verder gedefinieer deur dit wat jou gelukkig of kwaad of bang of hartseer maak. Ek is byvoorbeeld gelukkig as ek iets vir die mense om my kan doen. En ek raak kwaad wanneer kinders ‘n onreg aangedoen word – in watter vorm ookal.

Dalk moet ‘n mens ook na karaktereienskappe kyk as jy wil weet wat iemand definieer, maar vir nou gaan ek nie daar delf nie. Ek gaan myself bloot voorstel as: Ek is Annelie, ek hou van mense, kreatiewe dinge en woorde.

Monday, 17 November 2008

Henry Poole

Saterdagaand het ek Henry Poole is here gekyk.

Oor die algemeen dink ek dis ‘n uitstekende fliek. Ek het dit gelove omdat ek van flieks hou wat my aan die dink sit. (My enigste kritiek is dat George Lopez nie heeltemal vir my werk as priester nie, maar gelukkig gaan die fliek oor baie meer as net hom.)

‘n Sin wat my opgeval het, was: Sometimes you have to be sad to remind yourself that you are alive. En dit is waaroor ek aanvanklik wou skryf. Maar aan die einde van die fliek was daar soveel ander gedagtes in my kop, dat ek maar gaan begin waar ek wou en kyk waar dit eindig.

Terug by: Sometimes you have to be sad to remind yourself that you are alive. Wat ‘n wonderlike troos is dit nie net nie. Dat dit OK is om soms hartseer te wees. Mens raak tog hartseer oor dinge wat jou na aan die hart lê. As jy hartseer is, beteken dit jy moes eers baie bly oor iets gewees het, of baie lief daarvoor.

As jy na hartseer kyk is dit bloot ‘n emosie soos liefde, gelukkig wees, kwaad, teleurstelling, bly wees. En solank as wat jy emosie in enige van sy vorme ervaar, is dit OK, want dan weet jy dat LEEF. Hartseer is sekerlik nie die lekkerste emosie wat jy kan ervaar nie, maar dis emosie. En emosie is goed. Dis lewend. Ek dink daardie moment wat jy geen emosie meer ervaar nie, is wanneer jou wese doodgaan, wanneer jou siel nie meer wil nie.

En skielik weet ek dis OK. Ek mag maar soms hartseer wees (of enige ander emosie ervaar). Met elke emosie wat ek ervaar, weet ek dat ek nie net lewend is nie, maar ek leef!

Dan is daar ook die tema van hoop. Henry Poole is kwaad vir mense wat glo hulle sien “Christus se gesig” teen sy huis se muur. Hy is kwaad vir die desperaatheid waarmee mense aan die muur kom vat in die hoop om gesond te word. Ek weet nie of hulle daarheen gegaan het omdat hul geloof so groot was dat hulle glo dit kan hul werklik genees nie, en of dit meer ‘n hoop was nie. (Alhoewel geloof en hoop hand aan hand loop, is daar vir my ‘n wêreld se verskil tussen die twee.) Op ‘n stadium skree Henry Poole vir die mense: hope can’t save you! Maar op die ou end was dit tog wat hom gered het.

Die fliek het soveel ander gedagtes ook in my kop gesit, maar daarmee wil ek nog ‘n dag of twee loop en dit oordink. Miskien moet ek oor ‘n week of so selfs weer die fliek kyk, nog ‘n bietjie daaroor dink en dan besluit of ek nog iets daaroor wil sê.

Friday, 14 November 2008

Hoe bedaar storms?

Vir ‘n paar uur na my posting hieronder van gisteraand, het die onrustigheid in my eerder toegeneem as afgeneem. Die storms wat in my woed eerder erger geraak as bedaar. Eindelik gaan klim ek toe maar vroeg met ‘n boek in die bed.

Ek lees Elizabeth Gilbert se
Eat, Pray, Love met ‘n heelgepaste subtitel: One Woman's Search for Everything Across Italy, India and Indonesia. Ek verstom my oor haar onrustigheid en hoe sy dit uit haar wese ban – en dink dat ek dalk ‘n paar van haar ‘metodes’ moet probeer.

Dan slaan die donderweer skielik hier vlak langs my venster. En ek vang myself dat ek die boek neergesit het en so by myself lê en glimlag. My eerste gedagte is: My God is in beheer. En soos die knip van ‘n oog is ek rustig en die storms in my stil.

Ek weet daardie donderslag was spesiaal vir my, om my te herinner aan dit waaraan ek gisteraand herinner moes word. Dat ek nie 'n aardse skrywer, wat oor kontinente heen gesoek het, se ‘metodes’ hoef te volg nie. Die engiste metode is die van die Groot Skrywer. Die Skrywer van mensverhaal. Die Skrywer van die wêreld se storie.

Minder as twee weke gelede het ek dit hier
uitbasuin wat die donderweer vir my bevestig. En gisteraand kon ek met ‘n rusitigheid in my hart gaan slaap, want ek is aan daardie bevestiging herinner.

Thursday, 13 November 2008

Verskonings, verskonings...

Ek voel soos die slegste vriendin in die geskiedenis van die mensdom.
Ek wil niemand sien nie en ek wil niks doen nie.
Behalwe miskien om myself in my huis toe te sluit en so bietjie jammer te kry.

En ek gee einde van die jaar sindroom die skuld.
Of eerder: einde van die ergste jaar ooit sindroom.

Ek weet, dis seker nie ‘n verskoning nie.

Maar na ‘n jaar soos die een wat ek gehad het, mag ek myself seker bietjie jammer kry, of hoe?
Die jaar waarin ek my werk verloor het.
Die jaar waarin ek my beste vriend verloor het.
Die jaar waarin drie van my vriendinne elk 'n miskraam gehad het.
Die jaar waarin soveel verhoudings en huwelike verbrokkel het.
En dan nog soveel ander dinge wat nou klein lyk.

As ek terugkyk het daar goeie dinge ook gebeur het en het daar goeie dinge uit die slegtes gekom.
En ek is dankbaar daarvoor.

Maar vir nou, kry ek myself jammer en gee ek einde van die jaar sindroom die skuld.
Beslis nie die beste verskoning ooit nie, maar nou dat ek dit het, gebruik ek dit.

Monday, 3 November 2008

Die klank van die weer

Elkeen wat al hier gelees het, sal weet watse struwelinge ek al gehad met die konsep van kreatiwiteit. Waar dit vandaan moet kom, hoe om dit te ontgin en hoe om dit uit te leef. So gereeld wil ek net iets skilder of skryf – die wil om dit te doen is daar, maar ‘n kreatiewe onderwerp bestaan nie eers vaagweg nie... dus dwing ek myself nou om die oomblik wat ‘n gedagte by my opkom, dit onmiddellik neer te skryf. Nie noodwendig die eindproduk daar en dan te produseer nie, maar ten minste die gedagte neer te skryf en ‘n paar notas daaroor te maak, because no idea should ever escape.

Ek staan toe maar teen 2:38 Sondagoggend op om my gedagtes neer te skryf, want sien, dis nou al die tweede nag hierdie week wat ek lê en dink dat mense altyd sê hulle slaap so lekker as dit reën. Maar nie ek nie. Ek lê met ‘n vreemdsoortige opgewondenheid en luister na die wonder daarvan.

Dis vir my ongelooflik ervaring wanneer ‘n mens wakker word met die gewaarwording van donderweer wat ver weg klink; jy kan hoor hoe dit nader kom en dan begin die stortreën.

Ek kan my verluister aan die klank van donderweer. Dit is so kragtig. Maar met balans. Dit vul my met ‘n heilige vrees sonder om my menslik bang te maak. Dit is ‘n bevestiging van wat ek glo. Daardie fyn lyn tussen vrees vir die Almagtige en wat Hy kan doen en aan die ander kant ‘n troos wat jou op jou gemak laat voel – so asof Hy sê: Hoor jy dit? Ek is in beheer.

Ek hoor hoe die donderweer sagter raak soos dit koers kies op sy reis en dis die sagte reën wat oorbly. Soos ‘n troostende hoop. Weer sien ek dit as ‘n bevestiging van wat ek glo. Die donderweer as die kragtige werking van God, die sagte reën as die troostende werking van die Gees wat jou herinner aan sy immer-teenwoordigheid.

Wanneer die reën later ophou, raak ek bewus van ‘n intense stilte. ‘n Intense teenwoordigheid. En ek weet dat wanneer die son opkom, die aarde nuutgemaak en skoongewas gaan pryk. En weer sien ek dit as ‘n bevestiging van wat ek glo.

Ek kyk later op my horlosie – dit is 3:16. Ek dink onwillekeurig aan Johannes 3:16 en die rede waarom God sy Seun gestuur het – Sy liefde vir ons. En dink dit is ook die rede waarom Hy die donderweer en reën stuur; om ons te herinner aan daardie liefde vir ons en hoe dit ons nuutmaak en skoonwas.

Weer wonder ek hoe mense kan sê hulle slaap so lekker as dit reën, terwyl ek opgewonde lê en luister na die klank van die elemente. Maar ek weet dat ek nou baie lekker gaan slaap, want alles wat ek glo is pas vir my bevestig.

nuwe prente

Ek het onlangs weer begin paint ... hier is 'n paar van my nuwe "prente".



Saturday, 11 October 2008

Veertig dae en veertig nagte

Veertig dae en veertig nagte reën dit rondom my.
Vir veertig dae en veertig nagte is ek vasgevang in die ark.
Vir veertig dae en veertig nagte word ek op my knieë gedwing.
Na veertig dae en veertig nagte van beproewing raak dit stil rondom my.

Na veertig dae en veertig nagte waag ek dit buite.
Na veertig dae en veertig nagte sien ek weer die son en blou lug.
Ek wag vir die water om te sak.
Ek wag die duif om met ‘n olyftak terug te kom.

Na veertig dae en veertig nagte bou ek ‘n altaar van dankbaarheid.
Dankbaarheid teenoor my God wat my teen die vloedwater beskerm het.
Dankbaarheid teenoor elkeen wat my vir veertig dae en veertig nagte in gebed gedra het.

Na veertig dae en veertig nagte staan ek in verwagting op ‘n reënboog in die lug.
Die reënboog wat die lug verkleur tot ‘n aanskoulikheid.
Die reënboog wat belofte bring.
‘n Belofte van ‘n nuwe seisoen en die nuwe lewe wat gaan spruit.

Tuesday, 20 November 2007

Obituary

Ek wil nie eers begin tel hoeveel keer ek die afgelope maande hier oor die dood geskryf het nie. My blog begin al soos 'n obituary lyk. Daar was selfmoorde, 'n motorongeluk en gevalle waar siekte en/of ouderdom 'n rol gespeel het.

Vandag is my hart weer seer.
En dis weer ouderdom en siekte.

Die keer is dit my hond wie se lewe verby is en wat ek gaan mis:
sy onvoorwaardelike lojaliteit; en
sy swart gesiggie en logge lyfie.

Friday, 9 November 2007

Barbara Jean Carter

In my vorige posting het ek geskryf:

“Vanoggend is ek geïnspireerd om 'n lang brief aan my Engeland-tannie te skryf en haar te vertel van die somer wat hier aangebreek het. Ek skryf van die reën-gewasde aarde wat die mooiste groen uit dooie takke laat kom, jakarandabome wat die strate pers kleur, en die helder blou lug op 'n wolklose dag in perfekte harmonie met die Afrika-son. En dit is net die goed wat ek deur die venster kan sien as ek opkyk vanwaar ek sit en werk. Stap ek uit op die balkon, voel ek hoe daai Afrika-son warm op my vel skyn en hoe 'n koel bries dit dan weer laaf. Buite ruik ek van een kant af die rye laventel wat die jakarandas in kleur komplimenteer, en van die ander kant af styg die soet reuk van die sering wat bo die res uit.”

Vandag weet ek dat sy nooit gedeel het in die stukkie vreugde van die skoonheid wat my daardie dag omring het nie. Sy was reeds oorlede toe ek dit geskryf het.

Sy het ‘n vol lewe gehad en dit gevul met wat ek sielsdinge noem. Sy het antikware en skilderye verkoop – haar eie galery gehad in Bond Street, Londen. Later het sy haar op die platteland gevestig in ‘n lieflike 1650 Georgian-styl huis. Ek sien in my geestesoog die donker huis met lae sleeper balke, die duursaam gestoffeerde meubels en rye skilderye en antieke kaste teen die mure. Dis nou die mure wat nie gevul is met rakke en rakke boeke nie. Sy het die meeste boeke wat ek nog ooit in ‘n privaat versameling gesien het – en oor elke onderwerp waaraan jy moontlik kan dink. Sy het (soos wat die klein dogtertjie in elkeen van ons graag wil hê) mooi klere en skoene en baie handsakke gehad.

In die enkele maande wat ek in haar huis gebly het, het ons baie baklei het – soos kat en hond. Oor kos, oor die wêreld, oor my land, oor geloof, oor TV, oor alles. Net om ‘n paar uur later weer diep lewensdinge te praat en ek my verwonder aan al haar ervarings.

Sy het so ‘n vol lewe gehad, wat my net laat besef hoeveel daar nog vir my is om aan te gryp, te sien en te beleef. Daar is so baie van haar wat ek nooit sal vergeet nie. Ek sal nie weer aan Engeland of Skotland of selfs Parys dink sonder om aan haar te dink nie Die naam Napoleon sal ook nooit weer dieselfde in my ore klink nie.

Ek het haar vier-en-‘n-half jaar gelede ontmoet, vir amper ses maande by haar gebly en in die laaste vier jaar net een keer gesien. Ons kontak was beperk tot ‘n brief in die pos so elke tweede maand en die sonderlinge telefoonoproep. Maar sy het ‘n impak op my lewe gemaak en ek sal haar altyd onthou. Na ‘n oproep gisteraand na haar vriendin en familielid, weet ek dat ek ook ‘n invloed op haar lewe gehad het. Op ‘n vreemde manier is dit vir my ‘n troos om te weet dat ek iets vir haar kon beteken; maar aan die ander kant maak dit my selfs nog hartseerder.

Tata Jean, dit was ‘n voorreg om jou te ken. Dankie dat jy ‘n stukkie van jou lewe met my gedeel het.

Sunday, 7 October 2007

sielsdinge

Ek wou eers sê dis vreemd ... maar toe besef ek dis eintlik wonderlik.

Ek praat van hoe 'n aand vol sielsdinge, jou verkwik om weer die mooi raak te sien. Hoe dit jou inspireer om selfs nog meer sielsdinge te doen. Dit laat my wens ek kon vandag op 'n kombers onder 'n jakarandaboom gaan lê en na die wolke staar en die storie vertel van elke prent wat ek in die wolke sien. Dit laat my dink aan al die wonderlike geleenthede wat die lewe my bied om my eie siel te verreik.

En ek is spyt oor al die tyd wat ek mors deur:
nie die mooiste boeke wat ooit geskryf is, te lees nie;
nie 'n pakkie op te maak om 'n kinderhart te verbly nie;
nie spandeer saam ware vriende nie;
nie spandeer saam my familie nie;
nie my hande (en hare en klere) vol verf laat word nie;
nie die stilte waardeer nie;
nie my gedagtes neer te pen nie;
nie handgeskrewe briewe aan my geliefdes te pos nie;
nie die kleur rondom my raak te sien nie;
nie meer te lag nie;
nie meer te geniet nie;
en nie meer van myself vir ander te gee nie.

Vanoggend is ek geinspireerd om 'n lang brief aan my Engeland-tannie te skryf en haar te vertel van die somer wat hier aangebreek het. Ek skryf van die reen-gewasde aarde wat die mooiste groen uit dooi takke laat kom, Jakarandabome wat die strate pers kleur, en die helder blou lug op 'n wolklose dag in perfekte harmonie met die Afrika-son. En dit is net die goed wat ek uit die venster kan sien as ek opkyk vanwaar ek sit en werk. Stap ek uit op die balkon, voel ek hoe daai Afrika-son warm op my vel skyn en hoe 'n koel bries dit dan weer laaf. Buite ruik ek van een kant af die rye lavental wat die Jakarandas in kleur komplimenteer, en van die ander kant af styg die soet reuk van die sering wat bo die res uit.

(Addendum)
Skaars ‘n uur na ek alles hier bo geskryf het, begin dit reen. Katte en honde. Met elke druppel wat ek sien val, kan ek voel hoe my siel en elke hoekie van my hart skoongewas word. Die donderweer doof alles uit tot net ‘n stilte in my oorbly, ek bewus word van my eie hartklop en die gedagtes binne my.