Monday, 28 June 2010

Om die toekoms te sien

FlashForward is 'n televisiereeks oor die lewens van 'n aantal mense wat die vreemde gebeure wat veroorsaak het dat byna elke mens op aarde gelyktydig vir twee minute en sewentien sekondes hul bewussyn verloor het, ondersoek. Gedurende hierdie minute het almal "gesien" wat ses maande in die toekoms gaan gebeur. Die kollektiewe bewusteloosheid staan as die "global flashforward" bekend.

Die reeks gaan oor die ondersoek na die oorsaak van die gebeure, maar ook hoe dit mense se persepsies van hul lewens verander. Hoe dit mense beïnvloed om hul lewens 'n ander rigting te laat inslaan en hoe mense probeer om die toekoms (soos hulle dit gesien het) te verander. Mense raak behep met wat hulle gesien het en dit is die eerste ding wat hulle vir mekaar vra: "wat gaan oor ses maande met jou gebeur?"

Die reeks het my baie laat dink oor hoe ek op 'n flashforward sal reageer. Sal ek alles in my vermoë doen om dit wat ek gesien het te vermy of juis my lewe so inrig dat dit op die verwesenliking van my flashforward afstuur?

Ek weet nie hoe ek daarop sou reageer nie, maar ek is baie dankbaar dat daar 'n rede is hoekom ons nie weet wat die toekoms inhou nie. Ek wil nie elke dag wonder hoe dit wat ek nou doen, dit wat in die toekoms móét gebeur gaan raak nie. Ek wil nie onnodig in vrees lewe vir dit wat gaan gebeur of soveel uitsien na dit wat gaan gebeur dat dit my van hier en nou laat vergeet nie.

Ek wil vir mense vra: "hoe gaan dit vandag met jou?" Ek wil elke dag leef vir hier en nou. Dit beteken nie dat 'n mens nie vir die toekoms moet beplan nie, maar wel dat jy nie vandag spesifiek volgens die toekoms moet beplan nie.

Friday, 25 June 2010

Suiwer taalgebruik

Vroeër die week was daar 'n brief op 'n plaaslike nuuswebblad oor 'n Afrikaanse sepie waarin baie swak, of dan eerder onsuiwer, Afrikaans gepraat word. Dit het baie kommentaar uitgelok. Mense het gepraat oor die invloed wat Engels nie net op Afrikaans het nie, maar op die meeste tale wêreldwyd en dat 'n mens dit maar moet aanvaar omdat dit is hoe taal ontwikkel. Dan was daar weer die puriste wat nie "opinie" en "mening" sal verwar nie, wat nou nog daarvan om "obviously" in plaas van "uit die aard van die saak" te gebruik.

Ek praat self nie so 'n suiwer weergawe van my taal as wat ek eintlik graag wil nie - en dalk kan hierdie debat vir my 'n aansporing wees om minder Engelse woorde in my gesprekke te gebruik. Wat wel vir my belangrik is, is om suiwer Afrikaans te gebruik wanneer ek skryf ; spelling is nie onderhandelbaar nie en van sms-taal wil ek nie eers praat nie. Iets anders wat my ook dwars in die krop steek, is dat die Afrikaanse musiekbedryf so verengels het. Soms is daar soveel Engelse woorde in 'n sogenaamde Afrikaanse liedjie, dat ek nie weet of dit dan wel as Afrikaans geklassifiseer kan word nie.

Hoe dit ook al sy, ek gaan vir niemand voorsê hoe om te praat nie, maar gaan self probeer om beter Afrikaans te gebruik as ek praat en beslis poog om dit so suiwer moontlik te hou wanneer ek dit skryf.

Thursday, 24 June 2010

Ek glimlag wanneer ...

· my man in die middag by die huis kom
· kinders lag
· ek tyd saam met familie en vriende spandeer
· ek vars koffie ruik
· dit aan die einde van 'n warm dag reën
· die plantjies in my tuin begin blom
· daar geen probleme op die snelweg is nie
· ek 'n nuwe resep toets en dit 'n wenner is
· ek besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees
· ek ou vriende weer sien
· ek na my troufoto's kyk
· Suid-Afrikaners steeds hul vlae laat wapper, ten spyte daarvan dat Bafana nou uit die wêreldbekertoernooi is
· my man onverwags vir my 'n liefdevolle sms stuur
· ek wakker word en weet dit is naweek
· ek 'n nuwe boek koop of kry
· ek my gelukkige kinderdae onthou en na ou foto's kyk
· daar goeie nuus in die koerante is
· flieks gelukkige eindes het
· ek aan vakansievooruitsigte dink

Saturday, 22 May 2010

Seënwense

Seënwense het deurentyd ingestroom.

Dit is wat jou opnuut laat besef hoeveel mense daar is wat jou liefhet en omgee. Dit is daardie wete wat jou hart warm maak en heeldag laat glimlag.

Dankie vir elke verjaardagwens en elkeen wat moeite gedoen het om my dag spesiaal te maak – ek is waarlik geseënd om soveel wonderlike mense in my lewe te hê.

Friday, 21 May 2010

It's the final countdown

Die Castle-advertensie met die lied Final coutdown se musiek in die agtergrond is op hierdie stadium een van my gunstelinge en ek dink dit is baie gepas. Oor 20 dae skop die grootste sportgebeurtenis nog in Suid-Afrika af.

Ek is glad nie 'n sokkergeesdriftige nie, maar 'n opgewondenheid begin tog in my roer as ek op 'n Vrydag my geel sokkerhemp aantrek en sien hoe die vlae om my opgaan. En nie net Suid-Afrikaanse vlae nie: soos wat ek daagliks die stad in ry, pryk deelnemende lande se vlae aan lamppale. Dit spreek van trots Suid-Afrikaanse gasvryheid en verwelkoming aan die wêreld.

Ek dink nie enige iemand weet regtig wat om te verwag nie – hoe gaan dit ons verkeer raak; gaan dit net op wedstryddae probleme veroorsaak; hoeveel toeriste gaan hier wees; is Suid-Afrika gereed om die wêreld te ontvang en vele ander vrae duik op elke keer as ek 'n gesprek oor die toernooi het.

My wens is dat alle Suid-Afrikaners wat nog negatief oor die toernooi is, hul houdings binne die volgende 20 dae sal verander. Ek dink dit is 'n wonderlike geleentheid om as nasie saam te staan. Verder kan dit 'n groot inspuiting vir ons ekonomie wees – waarby almal natuurlik gaan baat, selfs die wat negatief oor sokker en die wêreldbeker is.

Gister is 'n biddag vir die toernooi gehou. Alhoewel ek nie met al die aspekte van die geleentheid saamstem nie, dink ek dat dit 'n wonderlike idee was en ek voeg ook my gebede vir die toernooi en Suid-Afrika by die wat gister daarvoor gebid is.

Dra ons land se kleure met trots en versprei positiwiteit, sodat die wêreld kan sien wat ons as 'n nasie werd is!

Wednesday, 28 April 2010

Oumas

Ons het die naweek my ouma se 80ste verjaardag gevier. En wat 'n groot voorreg was dit nie om haar lewe saam met familie te vier nie! Alhoewel sy nou dag na dag in 'n rolstoel sit en tydskrifte lees, onthou ek haar as die vrou voor die stoof, wat heerlik kon kook en bak en inlê. Ek onthou dat sy altyd handwerk gedoen het en ek onthou haar sêgoed.

Ek kom staan vanoggend in dankbaarheid voor my God, haar God, vir die vol lewe wat sy so ver gelei het en dankbaarheid dat ons haar steeds by ons het.

Sy was ongelukkig te siek om ons troue by te woon, maar ek het haar besoek net voor ek kerk toe is:




Ek was ook bevoorreg om my ander ouma (binnekort 85) en my nuwe (skoon-) ouma (van 75) by ons troue te hê:



Oumas is 'n groot seën om in jou lewe te hê en ek is baie dankbaar vir die wonderlike tye wat ek steeds saam met myne kan spandeer.

Thursday, 8 April 2010

Bewys van dankbaarheid

Die reëlings oor die maaltydoffer wat vir die Here aangebied word, is soos volg: as iemand dit aanbied as dankoffer, bied hy saam met die dankoffer ongesuurde ringbrood aan, met olie geknie, of ongesuurde roosterkoek met olie gesmeer, of 'n deegmengsel vir ringbrood, met olie geknie. Hy bied sy offer aan saam met ringbrood met suurdeeg, saam met sy maaltydoffer waarmee hy sy dank wil uitspreek. Hy bied een brood uit elk van hierdie offers aan as 'n spesiale gawe aan die Here. Die priester wat die bloed van die maaltydoffers sprinkel, kry die brood. Die vleis van die maaltydoffer waarmee iemand sy dank wil uitspreek, word geëet op die dag van die offer. Dit mag nie oorstaan tot die volgende more nie. – Levitikus 7:11-15

My eerste gedagte by die lees van die bogenoemde gedeelte, was: sjoe, wat 'n spul voorskrifte om jou dankbaarheid teenoor God te bewys! Maar hoe meer ek daaroor dink, hoe meer begin ek wonder oor hoe ons vandag – lank na die Ou Testament se wettiese voorskrifte – ons dankbaarheid teenoor God bewys. Hoe doen ons dit noudat ons nie meer diere voorskriftelik hoef te slag en spesifieke brode met olie te smeer of 'n priester te kry om bloed oor die offer te sprinkel nie?

Dis so maklik om jou dankbaarheid aan mense te bewys – ek gee graag geskenke of kaartjies, vat iemand uit vir koffie of nooi hulle vir ete, vir party is 'n oproep, sms of selfs 'n glimlag genoeg as teken van 'n ander se dankbaarheid. Maar hoe bewys ek dit teenoor God?

Ek is baie dankbaar vir so baie dinge in my lewe.
Ek is dankbaar vir my verlossing en al die genade wat ek elke dag ontvang.
Ek is dankbaar vir wonderlike mense met wie ek goeie verhoudings het – my man, my familie, my vriende.
Ek is dankbaar vir my werk wat ek baie geniet en dat ek finansieel daardeur geseën word.
Ek is dankbaar vir fleksietyd wat gemaak het dat ek vanoggend tot na 7 kon slaap.
Ek is dankbaar dat ek nog nooit in my lewe nodig gehad het om honger te gaan slaap nie.
Ek is dankbaar vir 'n veilige en warm huis en 'n betroubare motor.
Ek is dankbaar vir soveel meer as wat ek hier kan opnoem.

Ek weet nie altyd hoe om my dankbaarheid teenoor God te bewys nie, maar hoop dat ek nooit sal vergeet waar my seëninge vandaan kom nie. Ek streef ook om dit wat Hy vir my gegee (maak nie saak of dit verhoudings, talente, finansies of wat ook al is nie), met wysheid aan te wend en te bestuur.

Friday, 19 March 2010

SHOUT

Welgedaan!

En nog 'n "welgedaan" aan die inisieerders van die Shout Campaign!

'n Aantal Suid-Afrikaanse kunstenaars het saamgespan om die liedjie Shout op te neem en so hul stemme by die stryd teen misdaad te voeg. Die kunstenaars wat hierby betrokke is, is The Parlotones, Karen Zoid, Yvonne Chaka Chaka, Freshly Ground, HHP, Lira, Prime Circle, Hugh Masakela, The Soweto Gospel choir, Watershed, Loyiso, Steve Hofmeyer, Louise Carver, Tasha Baxter en Kurt Darren.

Dit is 'n inisiatief van die sanger Danny K in samewerking met Primedia se Crime Line. As gevolg van Crime Line se betrokkenheid teen misdaad wat ons land lamlê, is reeds 902 arrestasies gemaak. Met die opname van die liedjie word gepoog om geld in te samel om Crime Line in hul werk te help en Suid-Afrika vir ons almal 'n veiliger plek te maak.

Ek het nog altyd gedink Crime Line doen baie goeie werk en het daarom ook trots my stem bygevoeg deur R20 aan die inisiatief te skenk – en het ook nou sommer 'n splinternuwe luitoon.

Kyk op die
Shout-webblad vir meer oor die veldtog; daar is ook inligting en oor hoe om dit te ondersteun deur jou R20 te skenk en die liedjie af te laai. Kliek hier om na die video te kyk.

Wednesday, 17 March 2010

Soek en jy sal vind

Ek het onlangs die film, The Number 23, waarin Jim Carrey die hoofrol speel, gekyk. Dit is 'n spanningsfilm oor 'n obsessie met die 23 Enigma. Die 23 Enigma is 'n esoteriese geloof dat alle gebeure direk aan die getal 23 verbind kan word, ook aan wysigings aan 23 en ander getalle wat met 23 verband hou.

Die hoofkarakter het 'n obsessie met 23 en oral waar hy soek, kry hy die getal of 'n verwysing daarna. Die obsessie oorheers en verwoes sy lewe. Êrens in die film vertel hy ook van 'n man wat gedroom het hy trou met 'n vrou wat rooi dra, hy het 'n vrou gaan soek wat rooi dra, haar gevind en met haar getrou. Die verhouding het nie uitgewerk nie en hulle is geskei. Toe gaan hy weer uit en begin na 'n vrou wat rooi dra soek...

Dit alles het my laat dink aan die dinge wat ons in die lewe soek (en vind!) – as jy die getal 23 soek, gaan jy dit vind en as jy 'n vrou in rooi soek, gaan jy haar vind.

Soek ons nie daagliks die slegte nuus in die koerante uit om te lees nie? Soek ons nie die negatiewe eienskappe in ander mense nie? Soek ons nie dit wat verkeerd loop in verhoudings nie? Soek ons nie die bose in die wêreld nie? Soek ons na die dinge wat die politici en regering verkeerd doen nie?

Ons soek dit. En ons vind dit. Dan oorheers dit ons lewens en verander ons in negatiewe mense wat net op die dinge wat verkeerd is fokus. Is dit nie tyd dat ons 'n "mind shift" of te wel, 'n "attitude shift" moet ondergaan nie? Is dit nie tyd dat ons die positiewe dinge en dit wat wel mooi en reg in die lewe is moet soek nie? Ek weet dat ons dit sal vind, want dit is daar, en ek glo selfs nader aan ons as wat ons dink.

Ek is seker dat deur op hierdie dinge te fokus – dit wat wel reg is – kan ons almal 'n positiewe "attitude shift" ondergaan. Dink jou net in wat 'n algehele positiewe houding vir ons land of werkplek en veral jou gesin en verhoudings kan beteken.

Ek dink dis tyd dat ons die goeie dinge begin soek en fokus op wat reg is.

Thursday, 25 February 2010

Wittebrood

Dis waar wat almal sê: Jou wittebrood is jou lekkerste vakansie ooit!
Ek dink dis is waar omdat jy nie anders kan as om lekker uit te rus na al die maande se spanning van troue reël nie. Al daardie spanning en moeite en trane was egter die moeite werd, want my troue was presies soos wat ek dit wou gehad het: van die blomme, hoe die tafels gedek was, die kos, my rok en skoene en natuurlik my man! Vir my was dit 'n sprokiesdag! En ons wittebrood was net so wonderlik.
Ons het die eerste paar dae van ons welverdiende vakansie by Crystal Springs Mountain Lodge deurgebring wat nege kilometer van Pelgrimsrus, op die Rowerspas, geleë is. Van daar het ons een dag tot by God's Window en Burk's Luck Potholes gery en ons het ook by die Royal Hotel in Pelgrimsrus gaan ontbyt eet. Daarna was ons by Misty Mountain wat op die Long Tompas is en wat 'n ongelooflike uitsig oor valleie gevul met plantasies het. Die laaste paar dae het ons by Dunkeld Country Estate deurgebring wat net buite Dullstroom lê.
Elkeen van hierdie drie plekke hou op sy eie manier 'n besonderse bekoring in en die rustigheid en skoonheid van die omgewing was perfek vir 'n blaaskans. Ons het die natuur en wild baie geniet. Verder het ons baie ontspan, gelees, geslaap, af en toe 'n entjie gaan stap, heeltemal te veel geëet en mekaar se geselskap geniet.
Dis nogal 'n aanpassing om terug by die huis en by die werk te wees waar alles weer terug na normaal is. Maar dis ook lekker en ons spandeer ons tyd om ons huisie ons nessie te maak.
Hier is enkele vakansiefoto's:

The pinnacle

Dullstroom


Misty Mountain

MacMac-waterval

Burk's Luck Potholes