Thursday, 23 August 2007

So verander dinge

Mens weet dis tyd vir verandering as jy in ‘n groef beland en alles voorspelbaar en gemaklik raak.

Ek het onlangs met ‘n nuwe werk begin, wat my totaal en al uit my gemaksone geruk het. Dit gaan oor veel meer as net die verandering in die tipe werk wat ek doen. Ek moet ook nuwe stelsels leer ken; nuwe bestuurstyle as gesag aanvaar; met nuwe persoonlikheidstipes oor die weg kom; aanpas by ‘n nuwe daaglikse roetine; ek word gekonfronteer met die verkeer; en ek het ander inkomstes en uitgawes wat bestuur moet word.

Die verandering in seisoen het my ‘n klomp goed laat uitgooi - goed wat rondle, goed wat my kaste en my huis vul, maar waarvoor ek geen meer nut het nie. Dis amper of ek my siel van buite af skoonmaak deur van goed ontslae te raak. Dinge wat my aan die verlede bind, moet gaan – nie omdat ek alles wat agter my is wil weggooi nie, maar mens moet die waarde van goed bepaal en aanbeweeg. Mens moet ook aanvaar dat die waarde van dinge vir jou verander soos jy van een hoofstuk na die volgende in jou lewensboek beweeg.

In sekere opsigte, voel ek skaars die veranderinge. Wat ek wel voel, is hoe dit my dwing om na ‘n klomp goed in my eie lewe te kyk soos my geduld, aanpasbaarheid, approachability en selfbeheersing. En ek is opgewonde oor wat dit in my lewe gaan meebring. Maar op die ou end is dit tog waar wat hulle se: the more things change, the more they stay the same…

Wednesday, 25 July 2007

Op my laaste dag...

Op my eerste dag hier het die CEO gesê: “As jy my maatskappy as 'n stepping stone gebruik, sê ek vir jou ‘great’. Jy doen iets vir my en ek doen iets vir jou.”

Meer as drie-en-'n-half jaar later is ek op pad uit en ek sê dankie. Hierdie was meer as 'n blote stepping stone, dit was 'n leerskool. Dankie vir Mathilda wat my aangestel het en by wie ek baie geleer. Ook dankie aan Heidi, Jean, Natalie en Lynette vir wat ek by hulle kon leer.

Noudat ek my dankies gesê het, moet ek seker begin om te groet. Die afgelope week het ek geleidelik begin om my persoonlike goed huis toe te dra, maar praat daaroor? Nee. Daarvoor het ek nog nie kans gesien nie. Nou is dit onvermydelik.

Ek het soveel goeie vriende hier gemaak en die feit 'n hele klomp van hulle reeds voor my aanbeweeg het (ek dink aan Laurette, Hannes, Suretha, Elion, Natalie en Ronel), maak dit nie makliker om die paar wat agterbly te groet nie.

Eerstens elkeen in Analysis met wie my paadjie gekruis het – dankie vir dit julle tot my lewe gevoeg het. Veral Lani, Juan, Millicent (wat soos ek, al deel van die meublement geword het), Braam en Elani.

Heids en Lee, dankie vir die vele kuiers en geselsies. Sien julle gou weer op 'n Dinsdagaand by Mimmo’s.

Hester: Ons het nie baie lank saamgewerk nie, maar ek is bly dat ons wel het. Dis was 'n voorreg om jou my vriendin te kon maak.

Anneke: Dankie. Jy weet waarvoor dit alles is en ek gaan dit nie hier uitpak nie. En gelukkig weet ek daar gaan nog baie Donderdagaande met borrels en hart-tot-hart-, resepte-, patroon-, en trou-praatjies wees.

Dis darem nie net met hartseer wat ek hier weggaan nie, maar ook met mooi herninneringe en goeie vriendskappe wat altyd sal bly. En saam met die hartseer van dit wat ek agterlaat, is 'n opgewondenheid oor wat vir my voorlê en hoe dit my lewe gaan verander.

Ek groet jou MSA.



Sunday, 1 July 2007

Waaroor breek 'n mens se hart?

My hart breek vandag. In derduisende klein stukkies. Trane stroom kort-kort onkeerbaar oor my wange. En het geen idee hoekom nie. Ek het geen idee wat my hart so laat pyn nie. Ek dink al heeldag aan wat dit kan veroorsaak, maar ek het net geen idee nie. Dalk is dit mense wie ek mis. Dalk is dit dinge wat ek mis. Hoe is dit moontlik dat mens net absoluut geen idee kan he wat jou hart so uitruk nie?

Dit sou more haar verjaardag wees. Haar twee-en-sestigste. Vreemd, maar ek weet vir ‘n feit dat al mis ek haar so ongelooflik baie, is dit nie die gedagtes aan haar wat my hartseer maak nie.

Ek is bang/opgewonde oor die onbekende wat voorlê, en hartseer oor dit wat ek moet agterlaat. Maar ek dink ook nie dis dit wat my vandag so ontstel nie.

Ek het die grootste deel van my dag spandeer aan James Frey se outobiografie, a million little pieces. Sy verhaal raak my aan, maar ek twyfel of dit die rede vir my pyn is.

Dalk is dit maar ‘n kombinasie van al die bogenoemde saam met die depressiewe, koue weer en ‘n hunkering in my hart na wie weet wat. En op die ou end is daar mos maar min dinge so goed vir die siel soos om ‘n slag in jou hart rond te krap en voorraadopname te doen – sonder dat jy noodwendig by antwoorde uitkom. En ‘n ordentlike huilsessie om die stowwerige hoekies skoon te was.

Thursday, 28 June 2007

Ek het gister bedank!

Dit klink dalk nie na so 'n kragtige daad of groot ding nie. Maar vir my is dit. Vir beteken dit die einde van 'n era. Iets waaroor ek beide hartseer en opgewonde is.

Dis tyd om aan te beweeg. Dis tyd dat ek uit die groef en comfort zone kom waarin ek al vir so lank is. Dis tyd dat ek my pantoffels uittrek en weer my stapskoene uit die kas haal om die nuwe draaie op my pad aan te durf.

As mens so lank soos ek op dieselfde plek is, ken jy almal se giere en geite en al die kantoorpolitiek. Jy het jou vriende by die werk. Jy weet wat jy vir wie kan vra. Nou moet ek al die dinge van vooraf uitfigure.

Maar dit maak my ook baie opgewonde, want dis alles nuwe uitdagings. En daarna sien ek baie uit!

Friday, 22 June 2007

Be careful what you wish for...

... you might just get it.
Dis mos wat hulle altyd sê. En hulle is toe reg.

Ek word vanoggend wakker met die gedagte dat ek wens ek kon eers later gaan werk. Net so uur later sal heerlik wees. Maar ek ruk myself reg en sleep myself uit die bed. Net om op ‘n sitkamer en kombuis af te kom waar die water deur die dak stroom!

Die buurman in die woonstel bokant my het klaarblyklik in die vroeë oggendure by die huis gekom, die bad se kraan oopgedraai en aan die slaap geraak voor hy by bad uitgekom het. Hy het dus self vanoggend ‘n woonstel onder water gehad – maar darem net die vloere. By my het dit soos reën deur die dak gekom dus is alles van bo af nat. Gelukkig is die ergste in die vertrekke met teëls en het my houtmeubels nie te erg deurgeloop nie. Maar my mure gaan (wanneer dit eendag droog is) oorgeverf moet word.

So kry ek toe my wens om eers ‘n uur later te gaan werk – maar toe nie omdat ek langer in die bed kon lê nie, maar omdat ek van vroeg af met ‘n mop in die hand moes staan en skoon maak!

Volgende keer sal ek dalk maar versigtiger wees voor ek sommer vir iets wens. Die gevoel van absolute moedeloosheid en magteloosheid wat vandag op my gemoed druk, wil ek beslis nie gou weer voel nie. (Al weet ek dit gaan dalk nog baie sulke moedelose dae vat voor die mure droog is en die versekering hul deel gedoen het ten opsigte van skadebeheer in my woonstel.)

Wednesday, 30 May 2007

Nog 'n jaar

Gewoonlik het ek op 21 Mei soveel gedagtes dat ek bladsye en bladsye vol skryf daaroor. (Ander mense doen gewoonlik hierdie retrospeksie/ voornemens oefening op 1 Januarie.) Hierdie jaar was dit egter net nog 'n dag wat ongesiens by my verby gegaan het; en wat ek in 'n mate weggewens het. Ek wou dit nie hê nie en wou nie hê enige iemand moet iets daarvan maak nie. Ek wou in 'n hoekie wegkruip en wag dat dit verby gaan…

Maar kyk ek terug na die tientalle oproepe, sms’e, e-mails en mooi wense (soos bv
diè), besef ek hoe geseënd is ek dat soveel mense vir my omgee. Dankie aan elkeen wat (tussen 17 en 26 Mei) moeite gedoen het om dit vir my spesiaal te maak. En hier is paar foto’s van my gedwonge partytjie … wat ek op die ou end soortvan geniet het ;-)

Monday, 23 April 2007

Dood en lewe

Dit voel amper vir my asof dit die enigste ding is waaroor ek die laaste tyd skryf ... mense wat weggaan - om watter rede ookal.

Ek het vanoggend die nuus gekry van 'n ou vriend wat die naweek verongeluk het; ek het nog nie al die besonderhede van wat gebeur het nie, maar dit was vermoedelik op die pad tussen Mosselbaai en Uitenhage.

Hiermee my innige simpatie aan die Dippenaars met die verlies van Nico en die groot leemte wat ek weet hy in jul lewens sal laat.

Goeie nuus is dat Dina en Roelf Vrydagmiddag 'n babaseun ryker geword het. Baie geluk met Roelf Jnr! Mag hy julle eindelose vreugde en seën bring.

Friday, 20 April 2007

Die wat aanbeweeg het

Ek besef skielik hierdie week hoeveel mense die afgelope twaalf maande uit my lewe is.

Daar is die wat saam my gewerk het en my vriende geword het, wat groener weivelde gaan soek (en gekry) het. Aan die begin hou 'n mens nog kontak, maar dit raak minder en minder. Dan is daar die wat opgepak het om na 'n ander stad of selfs 'n ander land te verhuis; per geleentheid kom hulle terug vir 'n kuiertjie en dis amper soos in die ou dae, maar net amper. Dis met vreugde wat ek kan sê dat niemand die afgelope twaalf maande uit my lewe is as gevolg van 'n onvergeetlike of onvergeeflike russie nie.

Ek besef dat die lewe aangaan en al ek dink soms met heimwee en nostalgie aan die mense wat aanbeweeg het (die lewe het immers vir my ook aangegaan), lê my hart nie aan skerwe nie – ek weet hulle is OK en ek kan enige dag weer kontak maak.

My hart breek wel oor die wat ek nie weer sal sien nie, omdat hul lewens op aarde verby is. Maar daarmee leer mens om vrede te maak al is dit nie altyd maklik nie.

'n Paar dae kort vir 'n jaar gelede het ek langs die graf gestaan van 'n vrou wat meer vir my beteken het as wat sy ooit sou weet. (En ek is spyt ek dit nie vir haar gesê terwyl sy gelewe het nie.) Sy het my in haar huis laat kom en my met liefde behandel. Haar huis het vir my 'n hawe geword en haar familie myne, toe my eie ver was.
Vandag is dit presies 'n maand vandat ek
oupa moes groet (oor hom het ek reeds gesê wat ek wou sê).

Ek mis die mense wat die afgelope jaar uit my lewe is, maar ten minste het ek kans gehad om te groet, en behalwe vir die laasgenoemde twee, het ons uit eie keuse gegroet. En ek besef hoe geseënd ek is dat dit wel die geval is.

Die afgelope paar weke het die nuus weer
berig oor ses meisies wat agttien jaar gelede verdwyn het en wie se verdwynings met die pedofiel Gert van Rooyen verbind word. Die ouers van daardie slagoffers het nooit kans gehad om te groet nie en sal waarskynlik nooit antwoorde op hul vrae kry nie. Een ma sê dat sy selfs te bang geword het om te hoop. Ek bid dat hulle wel eendag vrede in hul harte sal kry.

En dit inspireer my om die beste van die tyd saam met die mense rondom my te maak, voor dit nodig word om te groet (vir watter rede ookal).

PS: Aanvanklik wou ek skryf oor die mense wat uit my lewe verdwyn het, maar dis eers toe ek die voorlaaste paragraaf skryf, wat ek die werklike betekenis van 'verdwyn' besef en besluit het om eerder te skryf oor mense wat 'aanbeweeg 'het.

Thursday, 12 April 2007

Trane vir Anna

Gisteraand begin ek Elbie Lotter se boek, Dis ek, Anna te lees. Dis een een van daai boeke wat jy letterlik nie kan neersit nie – alhoewel ek dit baie moes doen omdat ek nie ‘n woord deur my trane kon sien nie. En tussen die trane deur sit ek toe nie die boek neer voor ek nie die laaste woord gelees het nie. Die boek gryp my aan die hart en hoe verder ek lees, hoe meer trane vloei.

Trane van ‘n ongekende woede vir die vark wat ‘n kind misbruik.
Trane van moedeloosheid oor ‘n ma wat ander kant toe kyk.
Trane van hartseer oor ‘n vriendskap wat tot niet gaan.
Trane van teleurstelling oor ‘n verlore liefde.

Maar meestal trane omdat my hart breek vir kind in stilte moes ly.
Trane vir Stom Anna.

Monday, 26 March 2007

Hoe groet mens iemand wat jou hele lewe lank bloot net dáár daar was?

Die persoon wie se voete jou leer dans het – al om die koffietafel in die sitkamer.
Die een wat jou in sy bakkie op grondpaaie leer bestuur het.
Die een wat jou in die sinkdam agter die huis leer swem het.
Die een wat jou in sy mielielande leer skiet het.
Die een wat jou met moeilike wiskundehuiswerk gehelp het.
Die een by wie jy Kerstyd onthou vir die snikhete nagte en die yskoue waatlemoen waaraan jy laatmiddag smul.
Die een wat jou as klein dogtertjie laat giggel as hy sy voorkop kreukel.

Donderdagmiddag moes ek help om daardie persoon se kis te dra as deel van die groetproses, en die enigste woorde in my hart was:
Dankie Oupa vir alles wat jy my geleer het – veral die lewenslesse wat my altyd sal bybly.
Ek sal Oupa nooit vergeet nie.