Friday, 7 January 2011

Life of Pi

Dit het my byna 'n maand geneem om die eerste 50 of so bladsye van Yann Martel se Life of Pi te lees, maar toe ek eers by die deel kom waar die hoofkarakter, Pi, saam met 'n Bengaalse tier op 'n reddingsboot beland en vir 227 dae om oorlewing veg, kon ek nie die boek neersit nie.
                                      
Pi is die enigste oorlewende van 'n skip wat gesink het, en Japannese amptenare luister na sy storie om die rede waarom die skip gesink het, te bepaal. Eers vertel hy van al die diere wat saam met hom op die reddingsboot was en hoe hy en Richard Parker (die Bengaalse tier) oorleef het en hoe die ander diere mekaar uitgemoor het. As hulle hom nie glo nie, vertel hy nog storie. Die keer was hy saam met drie ander mense op die reddingsboot, en is dit net hy wat oorleef, omdat die mense mekaar ter wille van oorlewing uitgemoor het.

Life of Pi is 'n verhaal wat my beide vermaak en verstom het; dit is 'n fantasie-avontuurverhaal waarin Pi, 'n Indiese seun, kwessies soos spiritualiteit en realisme van 'n jong ouderdom af ondersoek. Ek dink die boodskap van die verhaal het iets te doen met die manier waarop stories vertel word en die manier waarop jy na jou wêreld kyk en dit ervaar teenoor die werklikheid. Pi se eerste storie was baie minder geloofwaardig as sy tweede storie, maar tog was dit die verkose een omdat dit meer verbeeldingryk was.

Vir my sê dit iets van hoe 'n mens se verbeelding ware ontvlugting van die werklikheid kan wees, maar dat as jy op God gefokus bly, nie nodig het om van die werklikheid te ontvlug nie, omdat Hy jou keer op keer sal laat oorleef in moeilike omstandighede. Dit is 'n triomfantlike storie wat jou, soos Pi dit op een plek stel, in God sal laat glo.

Monday, 27 December 2010

My gunsteling vakansiestorie

16 Desember: Geloftedag; Versoeningsdag; vakansiedag; en bowenal, my gaan-op-vakansie-dag!

Vroegoggend spring ons in die pad, maar dit gaan stadig – soos wat ons deur Johannesburg ry, stortreën dit so erg dat ons skaars in die pad kan sien en dit die rit gevaarlik maak. Teen die tyd dat ons 'n koffiestop in Kroonstad maak, bedaar die reën uiteindelik. Kort na ons weer begin ry stop die verkeer skielik. Na ongeveer 'n halfuur se stilstaan (in so 'n mate dat ons die motor kon afsluit), begin die verkeer weer vloei en ry ons verby 'n bus wat op sy sy lê. Later sou ons oor die radio hoor dat die bus vir 'n vragmotor uitgeswaai en omgeslaan het. Een persoon is oorlede en vyf-en-veertig beseer. My hart breek, maar ek is baie dankbaar dat ons sover veilig gehou is.

Later, anderkant Bloemfontein, staan die verkeer weer. Die keer het een vragmotor in 'n ander een vasgery. Weer sluit ons die motor vir ongeveer 'n halfuur af terwyl ons wag dat die ongelukstoneel opgeruim word. Ons lei af dat daar ernstige beserings was, want 'n helikopter neem mense weg. Weereens is ek hartseer oor wat gebeur het, maar die dankbaarheid oor ons eie veiligheid wel weer in my op. Op daardie oomblik bid ek ook in my hart vir almal op die paaie en dat ons nie nog ongelukke sal teëkom nie.

'n Entjie voor Drie Susters begin die aankomende verkeer hul ligte flits en die vragmotor voor ons slaan remme aan. My hart sak sommer en ek begin hoop en bid dat hierdie ongeluk nie 'n ernstige een is nie.

Maar dan, tot my groot verbasing, sien ek waarom die verkeer opgehou word – en my hart word lig en warm oor mense wat die natuur voorkeur op die pad gee. 'n Reuseskilpad is besig om oor die pad te stap en dit is waarvoor die verkeer op die N1 opgehou word.

Dit was 'n aanskoulike gesig en ten spyte van 'n wonderlike vakansie saam met familie, 'n heerlike troue, rondry in die pragtige natuur en tussen die wynlande, bly die skilpadstorie een van my gunstelinge vir hierdie vakansie.

Monday, 13 December 2010

Boeke

My leeservaring het onlangs handomkeer verander. Ek het hierdie jaar my Kersgeskenk vroeg gekry en dis een van die beste geskenke ooit! My Liefie het vir my 'n Elenox eReader gekoop en ek geniet my nuwe speelding  baie.

Ek het pas my eerste boek daarop klaar gelees (Long time coming van Robert Goddard). Ek is mal oor hoe gerieflik die eReader in my handsak pas en dat ek soveel boeke as wat ek wil kan saamneem op vakansie sonder dat ek oor spasie aangespreek word. Alhoewel dit aanvanklik vreemd voel om nie hoef om te blaai nie, maar bloot 'n knoppie te druk, kom 'n mens gou in die ding en ek kan nie wag om elke keer my volgende boek op die internet uit te soek nie.

In 2010 het ek ongelukkig harder gewerk en minder gelees as in die verlede, maar ek deel graag my leeslys vir die afgelope jaar.

1.      The Zahir – Paulo Coelhoe
2.      Wie met vuur speel – Deon Meyer
3.      A beggar at the gate – Thalassi Ali
4.      A quilt of dreams – Patricia Schostein
5.      The girl with the dragon tattoo – Stieg Larsson
6.      The girl who played with fire – Stieg Larsson
7.      The girl who kicked the hornet's nest – Stieg Larsson
8.      The help – Kathryn Stocket
9.      Seisoen van sonde – Chris Karsten
10.   Abel se ontwaking – Chris Karsten
11.   Valeria's last stand – Marc Fitten
12.   Plaasmoord – Karin Brynard
13.   Committed – Elizabeth Gilbert
14.   The book thief – Markus Zusak
15.   Long time coming – Robert Goddard

Dit is baie moeilik om gunstelinge uit so 'n groot verskeidenheid boeke en outeurs te kies: Die Stieg Larsson-triologie staan as gevolg van die boeiende storielyne en skryfstyl uit; The book thief staan uit as een van die mooiste boeke wat ek nog ooit gelees het en 'n boek wat ek graag vir almal wat ek ken wil aanbeveel; Karin Brynard se boek is so aktueel en relevant tot ons samelewing dat 'n mens kan identifiseer met dinge wat op die oomblik in Suid-Afrika aan die gang is; Chris Karsten se boeke is op plekke nogal grusaam, maar ek kon dit net nie neersit nie; dan was daar ook die feel good boeke soos A quilt of dreams en Valeria's last stand; en Elizabeth Gilbert se wyshede oor die huwelik.

Boaan my lys van vakansieboeke (en reeds op my eReader gelaai) is Yann Martel se Life of Pi, wat ek nie kan wag om te begin lees nie.

Ek hoop elkeen wat hier lees het die afgelope jaar soveel vreugde uit boeke geput as wat ek daaruit gekry het en mag 2011 se leerervaring vir elkeen met die mooiste boeke wat ooit geskryf is, gevul word.

Monday, 29 November 2010

The Book Thief

"Markus Zusak has not really written "Harry Potter and the Holocaust." It just feels that way. "The Book Thief" is perched on the cusp between grown-up and young-adult fiction, and it is loaded with librarian appeal. It deplores human misery. It celebrates the power of language. It may encourage adolescents to read. It has an element of the fanciful. And it's a book that bestows a self-congratulatory glow upon anyone willing to grapple with it."

So beskryf New York Times een van die wonderlikste boeke wat ek nog gelees het. Markus Zusak se The Book Thief speel voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Duitsland af en vertel die storie van Liesel Meminger, 'n kind in pleegsorg wat buite Munich woon. Liesel verbeter haar karige bestaan deur by elke moontlike geleentheid iets te steel wat sy nie kan weerstaan nie – boeke. Haar pleegpa help haar om te leer lees en sy deel haar stories met die bure tydens lugaanvalle en met die Joodse man wat in hul kelder wegkruip.

Die verhaal word uit Dood se oogpunt vertel en gebruik die wonderlikste metafore. Oor die verhaal self wil ek egter nie juis veel meer sê nie, maar wel oor wat dit van die waarde literatuur en menslikheid sê.

Vir Liesel was boeke haar ontsnapping uit haar omstandighede; dit was wat haar en haar pleegpa aan mekaar gebind het toe hy haar geleer lees het; haar verhouding met die burgemeester se vrou het hieruit ontstaan omdat sy Liesel in haar biblioteek toegelaat het; en die boeke wat Max (die Jood wat hulle tydens die oorlog versteek het) vir haar geskryf het, was 'n groot kosbaarheid in Liesel se lewe. Verder het sy ook besef dat dit woorde was wat die land onder Hitler en die Nazi-party se heerskappy gehou het.

Ek dink die feit dat woorde (letterlik aan die einde) Liesel se oorlewing was, is wat die verhaal vir my so kosbaar maak. Ek het self so 'n groot liefde vir woorde – ek verslind een boek na die ander; my werk behels woorde en sinne; en dan probeer ek self ook af en toe 'n paar woorde saamvoeg tot iets sinvols. Woorde is so dikwels ook my ontsnapping van die werklikheid of selfs uiting van my kreatiwiteit.

Die verhaal vertel verder oor die tweestrydigheid in ons as mense. Dit beskryf menslikheid as beide brutaal en pragtig. Brutaliteit word duidelik gestel in aaklige oorlogsdade en veral die behandeling van die Jode. Hierdie voorbeelde word egter dikwels teëgestaan in die vriendelike en simpatieke optrede en gebare van die hoofkarakters.

Dit laat my so baie aan ons eie samelewing dink. Aan die een kant probeer ons altyd goed doen deur mense fisiese en emosioneel ondersteun, maar aan die ander kant is geweld en misdaad baie werklik en deel van ons daaglikse lewe. Dalk het dit tyd geword dat ons met ons woorde begin om die mooi deel van menslikheid uit te leef.

Hier is een van my gunsteling voorbeelde van die wonderlike manier waarop Zusak die verhaal vertel (bladsy 389): Before they proceeded to their respective homes, Rudy's voice reached over and handed Liesel the truth. For a while, it sat on her shoulder, but a few thoughts later, it made it way to her ear.

Monday, 8 November 2010

Dankbaarheid

Die meeste mense sal saamstem dat dankbaarheid belangrik is om positief te wees. Dankbaarheid laat ons die sonskynkant van die lewe sien, wat ons positiewer mense maak. Ongelukkig kyk ons so dikwels vas in dit wat ons nie het nie, in plaas van wat ons het en kla ons in stede daarvan om dankbaar te wees. Ek het reeds 'n paar maande gelede oor dankbaarheid en hoe ons dit aan God kan bewys, geskryf. Vandag se skrywe maak egter nie die vorige tot niet nie, ek kyk bloot met 'n ander oog na die onderwerp.

Ek het vanoggend 'n artikel gelees wat handel oor 'n studie oor die inkomste van Suid-Afrikaners. Volgens die studie verdien ongeveer 24 miljoen volwassenes (uit 'n volwasse bevolking van ongeveer 32 miljoen) 'n inkomste van R50 000 en minder per jaar. Dit is skaars meer as R4 000 per maand en kan nie help om te wonder hoe mense daarmee oorleef nie.

Die nommer 1 vyand van dankbaarheid is waarskynlik om dinge as vanselfsprekend te aanvaar; deur dit te doen, vergeet ons hoe ons lewens sou wees as die dinge nie gehad het nie. Die artikel het my opnuut laat besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Ek verdien nie derduisende nie, maar genoeg om 'n veilige en warm huis te hê, genoeg om 'n betroubare motor te besit en nooit te wonder of daar kos op die tafel gaan wees nie, en ook genoeg om af en toe mooi skoene of handsakke of 'n ander luuksheid aan te skaf.

Vir al die materiële dinge wat ek het en kan bekostig is ek regtig baie dankbaar, maar daar is ook baie ander nie-materiële dinge waarvoor ek baie dankbaar is. Soms kyk ons so vas in die materiële dinge wanneer ons dink aan die dinge waarvoor ons dankbaar is, maar ek hoop nie ons kyk ooit die nie-materiële dinge mis nie. Dit is tog immers die nie-materiële dinge in ons lewens wat ons werklik vervul.

Hier is die top 10 nie-materiële dinge waarvoor ek baie dankbaar is en wat my lewe verryk:

  1. God in my lewe – ek is so dankbaar dat my ouers my kleins af van Hom geleer het en dat ek daagliks Sy seën en liefde kan beleef.
  2. My man – hy het integriteit, is liefdevol, geduldig en 'n wonderlike mens. Ek is baie dankbaar en bevoorreg om my lewe met hom te deel.
  3. Ek is dankbaar dat ek my geloof sonder enige vervolging kan beoefen.
  4. My vriende en familie is altyd net 'n oproep ver en altyd daar vir ondersteuning en met raad.
  5. Geletterdheid – ek is baie dankbaar dat ek kan lees en skryf. Die idee dat daar mense is wat uitmis op al die wonderlike boeke wat geskryf is, maak my baie hartseer.
  6. Al die werke wat ek nog ooit gehad het – al was ek nie altyd ewe gelukkig nie, het ek by elke plek waar ek nog gewerk het, baie geleer en het dit my professioneel en emosioneel geskaaf om vandag in 'n pos te wees wat ek baie geniet.
  7. My pa wat my die waarde daarvan geleer het om mense in die oë te kyk en altyd so op te tree dat ek dit met vrymoedigheid kan doen.
  8. Mooi sonsondergange en reën aan die einde van 'n warm dag.
  9. Goeie gesondheid en dat ek volle gebruik van elkeen van my liggaamsdele het.
  10. Die vooruitsig van vakansie – ek is dankbaar vir die tyd wat ek saam met my man gaan spandeer en dat ek Kersfees saam geliefdes gaan vier.
Dalk het dit tyd geword om elke keer as jy vir iets in jou lewe wens, eerder daardie gedagte met 'n gedagte aan iets waarvoor jy dankbaar kan wees, te vervang.

Monday, 20 September 2010

What's in a name?

What's in a name? That which we call a rose
By any other name would smell as sweet

Met hierdie bekende woorde het William Shakespeare in die laat 1500's bedoel dat dit nie gaan oor wat iets (of iemand) genoem word nie, maar oor wat dit (die persoon) is. Dit het my laat wonder hoe belangrik die name is wat ons gekry het en wat ons vir kinders gee. Baie mense gee hul kinders sekere name omdat dit 'n bepaalde betekenis het en hulle voel daardie betekenis gaan vir die res van die kind se lewe oor hom of haar uitgespreek word.

In die Ou Testament vind ons baie name met betekenis (gewoonlik word die betekenis in 'n voetnota aangedui). In 1 Samuel lees ons dat Hanna die Here vir 'n kind gesmeek het; na haar gebed verhoor is en sy die kind in die lewe gebring het, het sy gesê: "Sy naam is Samuel, want van die Here het ek hom afgesmeek". Die naam Samuel, in Hebreeus Shemu El, beteken "God hoor". Die kind se naam was dus ’n getuienis van hoe die Here haar gebed verhoor het. Ons kry ook vandag baie name wat vir kinders gegee word as getuienis van wat die kind vir die ouers beteken – byvoorbeeld Joyce of Grace.

In die Nuwe Testament is betekenis van name nie so algemeen nie, maar die bekendste is seker waar Gabriël die nuus van haar swangerskap aan Maria bekend maak en sê dat sy Hom Jesus moet noem, omdat dit "Verlosser" beteken. Ook vandag gee ouers hul kinders name waarmee hulle 'n sekere eienskap aan die kinders wil toedig – soos Happiness of Peace.

Ek dink nie dit maak regtig saak wat ons name beteken nie (daar is ook geen verpligting in die Bybel dat name betekenis moet hê nie), maar ek dink dis lekker om te weet wat jou naam beteken. My naam beteken (soos alle afleidings van Hanna en Anna) begenadigde of begunstigde. Ek dink wanneer ek die dag 'n naam vir 'n kind moet uitdink, sal ek nie noodwendig die naam na aanleiding van die betekenis kies nie, maar wel uitvind wat die naam beteken voor ek dit aan 'n kind gee.

Bronne:

Tuesday, 7 September 2010

Waar begin verantwoordelikheid?

Vir so lank as wat ek kan onthou, het my ma my verbied om soggens die huis te verlaat as my bed nie opgemaak was nie. Ek het altyd gedink dis bloot 'n poging tot netjiese kinderkamers, maar die ware rede het ek nou eers ontdek.

My ma is vir die afgelope 38 jaar 'n onderwyseres en verlede week vra sy 'n onmoontlike stout kind se ma of die kind self sy bed opmaak. Die ma antwoord half verbaas, nee, die kind maak nie self sy bed op nie.

Dit is net daar waar my ma toe haar punt maak: As die kind nie eers verantwoordelikheid kan neem om self sy bed op te maak nie, hoe sal hy ooit verantwoordelikheid vir belangriker dinge in die lewe leer? As hy verantwoordelikheid neem om sy bed op te maak (en ander huisreëls na te kom), sal hy waarskynlik later self verantwoordelikheid begin neem om skoolreëls na te kom en huiswerk te doen.

Dit gaan nie oor bedopmaak per se nie, maar daaroor om vir iets (hoe klein ook al) verantwoordelik gehou te word. Leer jou kinders verantwoordelikheid vir die klein dingetjies en maak ook seker hulle weet wat die gevolge is as hulle dit nakom of nie nakom nie. Soos ons ouer word, raak ons verantwoordelikhede groter en die gevolge het groter implikasies.

As jy nie huiswerk doen nie, moet jy detensie sit.
As jy laat tuiskom, word jy gehok.
As jy te vinnig ry, word jy beboet.
As jy nie jou elektrisiteitsrekening betaal nie, word dit afgesny.
As jy nie jou werk doen nie, kan jy afgedank word.
As jy verkeersreëls oortree, kan dit iemand se lewe kos.

Kom ons gaan kyk weer hoe ons die klein dingetjies in die lewe hanteer – as ons dalk daar 'n verandering kan maak, sal dit definitief ook 'n invloed op die groot dinge in ons lewens hê.

Monday, 6 September 2010

Suurstof vir my siel

Einde Oktober verlede jaar het ons met groot opgewondenheid na ons huis getrek en daar is 'n lieflike groot grasperk. Maar dis al wat daar is. 'n Grasperk en geen tuin nie. Vir die eerste paar maande na ons ingetrek het, was daar niks anders as ons troue in my gedagtes nie en tuinmaak die laaste ding waaraan ek gedink het. Na die troue was dit winter en nou kan ons uiteindelik begin tuinmaak.

Ek geniet die tuinmaak en dit verskaf my soveel vreugde om elke dag na al my plante te kyk, elke nuwe blaartjie of knoppie te bestudeer, om te sien hoe vinnig die Azalea al oortrek was van groot helder pienk blomme en hoe klein pers knoppies aan die Yesterday, Today and Tomorrow kop uitsteek.

Natuurlik het ons ook 'n boom geplant. 'n Koorsboom (Acacia xanthophloea). (Ek sou eers later uitvind dat dit ook die boom van die jaar is).

'n Koorsboom omdat dit 'n pragtige boom is.
'n Koorsboom omdat dit inheems is.
'n Koorsboom omdat daar baie van in die landgoed is en dit lyk of hulle gelukkig in die klimaat is.
'n Koorsboom omdat die helder groen stam vir my 'n bekoring inhou.
'n Koorsboom omdat ek hulle skielik oral raak sien en bewonder.
'n Koorsboom omdat ek sien hoe graag die vinke in hulle nesmaak en ek graag iets wil gee in ruil vir die kleur en klank wat hulle na my tuin bring.

So gaan soek ek en skoonma 'n boom uit, dis nog 'n baie jong boompie, maar ons reken hy het potensiaal. Die gat word dus gegrawe, die grond bewerk met kompos en beenmeel en die boom eindelik geplant.

Na 'n paar weke moes ek met groot teleurstelling erken dat die boompie dit nie gemaak het nie. Ek was so hartseer dat my eerste boom gevrek het. Hoe is dit moontlik? Al die ander plante groei en lyk pragtig. My suurlemoenboom wat al jare in 'n pot staan is vir die eerste keer oortrek met bloeisels en klein suurlemoentjies. Wat het ek verkeerd gedoen met die koorsboom? Te min water? Te veel water? Het ek nie genoeg met hom gesels nie? En so hou die vrae aan.

Saterdag besluit my Liefie dat ek die boom moet laat gaan, maar darem nie sommer net so nie. Ons ry in verskillende windrigtings agter kwekerye aan tot ons die perfekte plaasvervanger kry.

Die boom is egter heelwat groter en lyk ook sommer sterker as sy voorganger en helder groen blare loop oral uit. Wat 'n vreugde! Ek is seker hierdie boom gaan my sommer baie plesier verskaf. 'n Spinnekop het reeds begin drade span tussen die dorings en die voëls sit reeds op sy takke en sing, en ek weet, hierdie is die regte boom op die regte plek.

As jy enigsins kan, plant 'n boom! Daar is baie redenasies oor hoekom ons bome moet plant – byvoorbeeld, die suurstof wat dit vrystel en hoe goed vir die omgewing is. Maar vir my is dit 'n nice to do, heilsame aktiwiteit, en die suurstof wat hierdie boom vrystel, is suurstof vir my siel.

Monday, 26 July 2010

The Help

Ek het pas Kathryn Stockett se The Help klaar gelees. Persoonlik dink ek nie dis 'n briljante boek en 'n wonderlike storie nie, maar dit het my oor 'n klomp goed laat nadink.

Dit gaan oor drie gewone vroue in die Missippi in die 1960's. Twee swart huiswerkers en 'n jong blanke meisie wat pas teruggekeer het huis toe na sy klaargemaak het met kollege. Tuis ontdek sy dat die huishulp wat haar help grootmaak het, verdwyn het. Uit haar soeke om uit te vind wat met Constantine gebeur het, spruit haar vriendskap met Minny en Aibileen en 'n boek oor die lewe van swart huiswerkers in Missippi.

Dis hierdie swart huiswerkers se stories wat my hart aangeraak het, omdat dit in 'n baie groot mate vergelyk kan word met stories in Suid-Afrika gedurende die apartheidsera. Dis die stories van vroue wat nie vertrou word om die silwerware skoon te maak nie, maar om kinders groot te maak. Vroue wat nie hul eie kos in dieselfde yskas as die huismense mag hou nie, maar wel elke dag vir hulle moet kook. Vroue wat nie dieselfde toilet as die huismense mag gebruik nie (omdat hulle kwansuis "diseases" het), maar die kinders se doeke moet ruil.

Dit maak mos dood eenvoudig net nie sin nie! Dis vir my so hartseer. Hartseer omdat dit die waarheid is – en dat dit nie net 'n storie is wat in die sestigs in Amerika afgespeel het nie, maar iets wat tot baie meer onlangs ook in 'n groot persentasie van Suid-Afrikaanse huishoudings die geval was. En moontlik steeds in sommiges die geval is.

Maar dan kom daar ook die storie uit waar een wit vrou so dankbaar is vir haar huishulp en sê dat die vrou haar rede is om elke dag op te staan; haar help om nie dieper in haar depressie te verval nie. Daar is ook die storie van die swart vrou wat haar "baas" bystaan tydens 'n miskraam. En dis hierdie stories wat die volgende reël tot gevolg gehad het:

Wasn't that the point of the book? For women to realize, we are just two people. Not that much separates us. Not nearly as much as I'd thought.

Dit het my laat dink aan my eie huishulp en hoe ek haar behandel. Al werk Joyce net een keer per week in my huis, speel sy 'n groot rol in my huishouding. Ek is innig dankbaar vir die werk wat sy doen en kan met alle eerlikheid sê dat ek haar menswaardigheid altyd in gedagte hou wanneer ek met haar praat of haar vra om vir my iets te doen. Ek is dankbaar dat ek haar nie net kan vertel oor my familie en dinge wat met my gebeur nie, maar dat ek ook kan luister wanneer sy van haar man en kinders vertel.
Ek is dankbaar dat ons albei besef, ons is bloot twee vroue en daar is nie veel wat ons skei nie.

Thursday, 15 July 2010

Let him be

Die afgelope maande het ek by 'n hele paar geleenthede gesê dat ek wens mense wil Nelson Mandela nou uitlos. Hy is 'n ou man en sekerlik moeg en ek wens mense wil hom uitlos.

Nelson Mandela het sy hele lewe aan hierdie land gewy – eers in stryd om vryheid, toe om demokrasie te vestig en nou nog as ikoon vir vryheid en toonbeeld van liefdadigheid. Ek het ongelooflik baie respek vir hom, maar glo dat hy nou in vrede sy tyd saam met sy vrou en kinders en kleinkinders wil spandeer. Hou op om hom soos 'n haas wat elke keer uit die hoed geruk kan word as Suid-Afrika of een of ander organisasie publisiteit nodig het, te behandel.

Vanoggend lees ek Khaya Dlanga se rubriek op News24 oor Madiba se verskyning by die finaal van die wêreldbeker en ek stem met heelwat van wat hy sê saam. Veral waar hy skryf:I just hope that we leave him in peace now that the World Cup is over. It is time we let him rest. He is not a mascot that needs to dragged out every time we need one.

Kort voor sy 92ste verjaardag wil ek hom gelukwens en jaar vol seën en goeie gesondheid toewens. Ek wil hom ook bedank vir wat hy in hierdie land gedoen het, maar kom ons laat hom nou met rus – hy verdien dit beslis!

Lees Khaya se hele artikel hier.