Welgedaan!
En nog 'n "welgedaan" aan die inisieerders van die Shout Campaign!
'n Aantal Suid-Afrikaanse kunstenaars het saamgespan om die liedjie Shout op te neem en so hul stemme by die stryd teen misdaad te voeg. Die kunstenaars wat hierby betrokke is, is The Parlotones, Karen Zoid, Yvonne Chaka Chaka, Freshly Ground, HHP, Lira, Prime Circle, Hugh Masakela, The Soweto Gospel choir, Watershed, Loyiso, Steve Hofmeyer, Louise Carver, Tasha Baxter en Kurt Darren.
Dit is 'n inisiatief van die sanger Danny K in samewerking met Primedia se Crime Line. As gevolg van Crime Line se betrokkenheid teen misdaad wat ons land lamlê, is reeds 902 arrestasies gemaak. Met die opname van die liedjie word gepoog om geld in te samel om Crime Line in hul werk te help en Suid-Afrika vir ons almal 'n veiliger plek te maak.
Ek het nog altyd gedink Crime Line doen baie goeie werk en het daarom ook trots my stem bygevoeg deur R20 aan die inisiatief te skenk – en het ook nou sommer 'n splinternuwe luitoon.
Kyk op die Shout-webblad vir meer oor die veldtog; daar is ook inligting en oor hoe om dit te ondersteun deur jou R20 te skenk en die liedjie af te laai. Kliek hier om na die video te kyk.
Friday, 19 March 2010
SHOUT
Wednesday, 17 March 2010
Soek en jy sal vind
Die hoofkarakter het 'n obsessie met 23 en oral waar hy soek, kry hy die getal of 'n verwysing daarna. Die obsessie oorheers en verwoes sy lewe. Êrens in die film vertel hy ook van 'n man wat gedroom het hy trou met 'n vrou wat rooi dra, hy het 'n vrou gaan soek wat rooi dra, haar gevind en met haar getrou. Die verhouding het nie uitgewerk nie en hulle is geskei. Toe gaan hy weer uit en begin na 'n vrou wat rooi dra soek...
Dit alles het my laat dink aan die dinge wat ons in die lewe soek (en vind!) – as jy die getal 23 soek, gaan jy dit vind en as jy 'n vrou in rooi soek, gaan jy haar vind.
Soek ons nie daagliks die slegte nuus in die koerante uit om te lees nie? Soek ons nie die negatiewe eienskappe in ander mense nie? Soek ons nie dit wat verkeerd loop in verhoudings nie? Soek ons nie die bose in die wêreld nie? Soek ons na die dinge wat die politici en regering verkeerd doen nie?
Ons soek dit. En ons vind dit. Dan oorheers dit ons lewens en verander ons in negatiewe mense wat net op die dinge wat verkeerd is fokus. Is dit nie tyd dat ons 'n "mind shift" of te wel, 'n "attitude shift" moet ondergaan nie? Is dit nie tyd dat ons die positiewe dinge en dit wat wel mooi en reg in die lewe is moet soek nie? Ek weet dat ons dit sal vind, want dit is daar, en ek glo selfs nader aan ons as wat ons dink.
Ek is seker dat deur op hierdie dinge te fokus – dit wat wel reg is – kan ons almal 'n positiewe "attitude shift" ondergaan. Dink jou net in wat 'n algehele positiewe houding vir ons land of werkplek en veral jou gesin en verhoudings kan beteken.
Ek dink dis tyd dat ons die goeie dinge begin soek en fokus op wat reg is.
Thursday, 25 February 2010
Wittebrood
Dullstroom
Misty Mountain
Burk's Luck Potholes
Wednesday, 24 February 2010
Monday, 8 February 2010
Beloftes en bewyse
Wednesday, 3 February 2010
Nog net drie slapies
Oor drie dae trou ek met my beste vriend
die een wat my gelukkig maak
die een wat my elke dag laat lag
die een wat weet hoe om my trane af te vee
die een wat ek met my hele hart liefhet.
Ek sien uit na my droomrok
blomme en bykomstighede net soos ek dit in my gedagtes gesien het
viering saam met kosbare mense in ons lewe.
Maar meer as dit:
Ek bars van opgewondenheid om jou vrou te word en elke dag vir die res van my lewe saam met jou te spandeer.
Thursday, 28 January 2010
Foto's
Hier is sommer 'n paar foto's van my bruidstee:

Weereens, dankie vir die groot bederf en stylvolle manier waarop alles gedoen is!
Thursday, 21 January 2010
Dr Seuss
sit ek en sus Sannie.
Ons wens ons kan uit,
maar dit reën en ons kan nie.
Hierdie vertaling van die openingsreëls van Dr Seuss se Die kat kom kuier, sal my seker altyd bybly. Dis so deel van my grootword en leeservarings as dogtertjie dat ek dit nooit sal vergeet nie. Dit kom vandag steeds telkens by my op wanneer dit voel of die reën my inperk.
Ek het die onderstaande vanoggend per epos gekry en dit het my opnuut na wonderlike grootword-herinneringe teruggeneem - en ek deel dit graag. En ek praat nou nie van die inhoud van die gedig wat my laat terugdink het nie, maar die Dr Seuss-ervaring. Ek het bietjie op die internet rondgekrap en op hierdie wonderlike webblad afgekom: Seussville.

Geniet dit en ervaar weer die wonderlikhede wat ons kleintyd saam met die Dr Seuss ontdek het.
Monday, 18 January 2010
Groot bederf!
Baie dankie aan al die kosbare vroue in my lewe wat Saterdag vir my so spesiaal gemaak het. Dankie vir almal se moeite, liefde en ondersteuning en vir my geskenke. Ek is baie dankbaar en baie bevoorreg om julle in my lewe te hê.
Ek sal binnekort 'n paar foto's van die geleentheid hier oplaai.
Monday, 11 January 2010
Kleurblindheid
'n Tyd gelede lees ek 'n brief op Beeld se webblad waar die skrywer die storie van 'n kind se kleurblindheid vertel. Die verhaal gaan oor 'n seuntjie wat elke dag na skool van sy maatjie vertel, hoe lekker hulle speel en hoe hulle alles deel. Op 'n dag vra sy ma of die maatjie wit of swart is, waarop die seuntjie antwoord dat hy nie weet nie, maar die volgende dag sal kyk.
Dit het my aangegryp en my laat wens dat ons werklik in 'n kleurblinde samelewing kan leef. Die brief hou egter nie daar op nie, maar die skrywer vertel verder hoe hartseer sy is om te sien haar eie graad 3-kinders se kleurblindheid is aan die kwyn. (Lees die brief hier.)
Die brief het my baie laat dink oor my eie kleurblindheid – of gebrek daaraan.
Verlede week herhaal iemand iets wat 'n swart winkelassistent gesê het. Onmiddellik besef ek hoe ver van kleurblind af ons eintlik is. Waarom praat ons van 'n blanke persoon as "die dame wat my gehelp het", maar die oomblik wat sy swart was, sou ons sê "die swart dame wat my gehelp het" of "my swart kollega" in plaas van "my kollega"?
Ek besef met 'n skok ons is verder van waar ons wil wees as wat ons gedink het ons is. Die brief en insident is egter vir 'n my inspirasie om hierdie jaar die kleur uit verhoudings en gesprekke te probeer haal en mense bloot as "man", "dame", "persoon" te sien en nie 'n kleur aan hulle te koppel nie.
Ek voel ek moet ook noem dat die gebrek aan kleurblindheid vir my persoonlik niks met rassisme te doen het. Dit gaan oor 'n onbewuste onderskeid wat ons tref, alhoewel dit nie noodwendig ons gesindheid of die manier waarop ons iemand behandel, beïnvloed nie.
Mag elkeen in ons land hierdie jaar werklik die uitwerking van 'n kleurblinde samelewing beleef!





