Vir ʼn paar maande wag jy vir die tweede strepie. Skielik op ʼn dag is dit
daar en jy kan die opgewondenheid nie keer nie. Daarna gaan jy dokter toe en
die rede vir jou opgewondenheid word bevestig.
Elke dag groei die opwinding. Die oulike speelgoed en klere en die navorsing oor
stootwaentjies en karstoeltjies dra alles tot jou opgewondenheid by. Die dag
wat die dokter vir jou sê dis ʼn seuntjie is daar weer nuwe opwinding wanneer jy oor name begin wonder en praat – en daar roer opnuut iets in jou. Niemand kan jou
egter voorberei op die dag wat daar letterlik iets in jou roer nie. Dan is daar
ook ʼn nuutgevonde en ongekende opgewondenheid wanneer jy na die skerm van die
4D-skandering kyk en ʼn idee begin vorm van jou kind gaan lyk.
Soos die tyd aanstap en jou voorbereiding vorder, neem die opgewondenheid
toe. Stadig bekruip iets anders jou egter ook. Vrees. Jy is bang dat jy nie al
die nodige verbruikersgoedere en katoeters het wat jy nodig het om ʼn kind groot
te kry nie. Jy vrees die bevalling self en die borsvoeding. Jy wonder of jy
gaan regkom om daardie klein lyfie te hanteer, te voed, te bad, aan te trek, en
die lysie hou net aan.
Die grootste vrees van alles is egter of jy hom sal kan grootmaak om sy
plek in die samelewing met die regte waardes en integriteit vol te staan. Jy
wonder of jy ʼn goeie ma sal wees en hom alles sal kan leer wat hy moet weet.
Maar dan skop die opgewondenheid weer in, en jy weet, soos ʼn vriendin sê,
dat die Vader reeds jou “sagteware” bygewerk het nog voor jy swanger geraak
het. Jy weet dat jy reeds al die instinkte en ondersteuningsnetwerke het, en jy
weet dat jy ook hierdie uitdaging sal baasraak, want jy is nie alleen nie.
Elke dag is daar steeds ʼn bietjie vrees, maar niks wat jou opwinding kan
oorskadu nie. Nou moet jy net geduldig wag vir die laaste vier weke om verby te
gaan terwyl jou opwinding die hele tyd toeneem.