Om te begin weet ek nie of ’n mens dit regtig sneeu kan
noem nie. Dit was maar enkele vlokkies wat die oomblik wat dit die grond tref,
reeds gesmelt het.
Suid-Afrikaners is gewoond aan sonskyn wat met see en
sand en braai gepaard gaan. Baie mense het nog nooit sneeu of kapok gesien nie,
en ek dink dit is wat gister se ervaring so magies gemaak het. Mense het uit
hul werkplekke en huise gestroom om iets van hierdie wit vlokkies te ervaar en
foto's te neem – die bittere koue (en hopelik ’n paar ander bekommernisse) vir ’n
oomblik vergete.
My sneeu-oomblik van gister was toe ek by ’n rooi verkeerslig
stop en die vlokkies weer begin neersif – byna soos wanneer jou bure polistireen
sny en die fyn wit balletjies waai by jou venster verby. Die glimlag en
gesigsuitdrukking van die seuntjie in die kar langs myne, som vir my die
sneeu-ervaring op: verwondering en in vervoering. Die beeld van die kind se
gesig is in my geheue geprent en waarskynlik die eerste ding waaraan ek nog vir
’n lang tyd sal dink, wanneer ek aan 7 Augustus se enkele sneeuvlokkies dink.
Ek hoop dat elkeen wat dit gister beleef het vir ’n oomblik
van werk en spanning en geld kon vergeet en soos ’n kind in verwondering en
vervoering oor die sneeu kon staan.