Mandela-dag word blykbaar wêreldwyd gevier en mense word
aangespoor om 67 minute van hul tyd aan liefdadigheid te spandeer. Dis seker 'n
goeie inisiatief en dis wonderlik as mense hul tyd vir ander gee.
Ek het egter 'n probleem met hierdie spesifieke
inisiatief – maar ek wil dit duidelik stel dat ek nie 'n probleem met
Mnr Mandela het nie. In teendeel, ek dink hy het wonderlike werk gedoen en ek
twyfel of iemand anders in sy situasie dieselfde vir nasiebou in 'n tyd van politieke
onsekerheid in Suid-Afrika sou kon doen.
Dit voel vir my of mense aan hierdie inisiatief deelneem
as 'n heldeverering vir 'n mens, en dit kan tog nie die rede vir goeie dade
wees nie. Ek glo sulke dade moet uit die hart moet kom, uit liefde vir die
medemens. Ek gee van my tyd en is betrokke by liefdadigheidswerk, en ek doen
dit omdat ek graag wil. Ek weet baie mense sal argumenteer dat niemand sal
betrokke raak as hulle nie in elk geval wou nie, my teenvraag is dan: as jy dan
so graag iets vir ander wil doen, waarom net een maal per jaar vir 67 minute?
Betrokkenheid by die wêreld se nood kan wel 'n verskil in
mense se lewens maak, maar kom ons doen dit dan meer gereeld. Kom ons doen dit
weekliks of maandeliks vir 'n uur of twee en bou verhoudings met die mense en
wag nie vir 'n spesiale geleentheid of iemand se verjaardag om dit te doen nie.
* * *
Ek wil Mnr Mandela ook geluk wens met sy 94ste
verjaardag. Dit is voorwaar 'n mylpaal en hy kan met trots terugkyk na 'n vol
lewe waarin hy baie bereik het.